Jongste aktiwiteit:

DIE MENSLIKE BREIN VS MODERNE ELEKTRONIESE TEGNOLOGIE

Die mees tergende vraag waarmee die mens in ons kontemporêre samelewing gekonfronteer word is: “Is ons moderne elektroniese tegnologie ’n plaasvervanger vir die menslike brein?” Die menslike brein en die rekenaar oftewel elektroniese stelsel verskil fundamenteel in aard.

Die menslike brein is ’n biologiese orgaan, geskep deur die liefdevolle hand van God tydens Sy skepping van die mens.

Die rekenaar, soms spottenderwys verwys na as die ‘blikbrein,’ is kunsmatig ontwerp en gebou deur die mens om spesifieke funksies te kan verrig, om sodoende sy daaglikse take met ‘gemak’ te kan verrig. Is dit werklik so? Staan ons op die drumpel om deur die elektroniese tegnologie vervang te word? Kunsmatige Intelligensie, (‘AI’) en ‘Chat GPT’’ is op almal se lippe.

Om bogenoemde vrae sinvol te kan beredeneer, moet ons noodwendig ’n vergelyking tref tussen dit wat biologies asook tegnologies van aard is. Dít sluit onder andere in aspekte soos struktuur, funksionaliteit, aanpasbaarheid en kompleksiteit.

Wat die strukturele kompleksiteit van die menslike brein betref, is bevind dat die menslike brein uit sowat 86 miljard neurone bestaan, elk verbind deur duisende sinapse, wat lei tot ongeveer 100 triljoen verbindings oftewel sinaptiese netwerke.
Hierdie netwerke kan voortdurend versterk, verswak of herorganiseer word op grond van die mens se geskooldheid, opvoeding, sy geheue en lewenservaring.
Die menslike brein bestaan egter nie net uit neurone nie. Daar is selle wat voeding, beskerming en regulering bied, asook chemiese prosesse wat die vloei van inligting beïnvloed.
Die menslike brein is dus nie ’n statiese netwerk nie, maar ’n dinamiese biologiese ekosisteem waarmee God die mens toegerus het.

Elektroniese tegnologie aan die anderkant, soos byvoorbeeld ’n moderne mikroverwerker, werk met transistors as basiese eenhede. Hoë-end rekenaarskyfies kan miljarde transistors hê wat binêr, (0 of 1), funksioneer.
Alhoewel dit indrukwekkend klink, bly transistors eenvoudig in vergelyking met ’n neuron, wat nie net seine aan die brein oordra nie, maar ook die sterkte, tydsberekening asook die aard van seine kan moduleer. ’n Neuron is dus funksioneel veel ryker as ’n transistor.

Wat die funksionele kompleksiteit van die menslike brein betref dien daarop gewys te word dat die menslike brein nie net ’n “verwerkingsmeganisme” is nie.
Deur middel van sensoriese waarneming koördineer die menslike brein motoriese beheer, emosies, bewussyn, taal, verbeelding en abstrakte denke. Selfs eenvoudige aksies, soos die herkenning van ’n gesig, behels honderde neutrale netwerke wat parallel saamwerk.
Verder het hierdie wonderlike Godgeskape ‘biologiese rekenaar’, (die menslike brein), die vermoë om:
• Ervarings te kan ontleed en te verwerk;
• Menslike emosie te kan interpreteer en verwerk; en ook om
• Komplekse probleme waarmee hy gekonfronteer word sinvol te kan benader en suksesvol op te los.

Elektroniese tegnologie daarenteen, kan data teen ’n ongelooflike spoed verwerk, maar dit “verstaan” nie intrinsiek nie. ’n Rekenaar kan byvoorbeeld miljoene gesigte in ’n databasis vergelyk, maar dit ervaar nie die emosies soos pyn, hartseer en blydskap soos wat die geval by die mens is nie.
Inherent, is die rekenaar van die menslike brein afhanklik vir die verwerking van enige data of opdragte en nie andersom nie. Die moderne tegnologie kan nie doen wat die menslike brein kan doen nie. ln al sy wonderlikhede ten spyt, reageer die moderne tegnologie nét op dit wat die menslike brein hom toelaat om op te reageer.

Een van die mees unieke kenmerke van die brein is neuroplastisiteit. Laasgemelde is die wonderlike vermoë van die menslike brein om te kan herorganiseer en aan te pas by nuwe ervarings, leerprosesse of selfs na beserings.
’n Blindgebore persoon se brein kan byvoorbeeld die visuele konteks aanwend vir klankverwerking of aanraking. So ook kan die dowe persoon se brein gehoor-konteks aanwend op gebare en liggaamstaal. Hierdie buigsaamheid en aanpasbaarheid van die menslike brein het tot gevolg dat die brein voortdurend sy eie struktuur en funksies herskryf. Wonderlike skepping van God! Hy het met die skepping van die mens Sy unieke ‘biologiese rekenaar’ geprogrammeer en dit self in Sy eie persoon in die mens ‘ingebou’.

Elektroniese tegnologie ontwikkel vinnig op die gebied van kunsmatige intelligensie, maar dit gebeur binne vooraf-geprogrammeerde reëls of algoritmes. Selfs die sogenaamde masjienleer, (machine learning), is afhanklik van groot datatoestelle en herhalende rekenaarprosesse.

Daarenteen, kan die menslike brein leer uit ’n enkele ervaring, ’n emosionele insident of ’n intuïtiewe sprong. Laasgemelde is aspekte wat nie in rekenaarkode vasgevang kan word nie. Hiér word die uniekheid van die brein weereens op die podium geplaas.

Wat energie-doeltreffendheid betref, hardloop die menslike brein ook loshande voor die moderne elektroniese tegnologie in die sin dat die menslike brein ’n gemiddeld sowat 20 watt energie gebruik om effektief te kan funksioneer. Dít is minder as ’n eenvoudige gloeilamp. Desnieteenstaande is die menslike brein in staat om verbasend komplekse take uit te voer wat betref taalbegrip, kreatiewe denke, emosionele verwerking, patroonherkenning en besluitneming.

Vergelyk ons dit nou met ’n super-rekenaar, is die bevinding dat ’n stelsel wat ’n klein gedeelte van die brein probeer stimuleer, slegs enkele megawatt elektrisiteit daarvoor benodig (miljoene Watt). Byvoorbeeld, die stimulasie van net 1% van die menslike brein deur die ‘K-computer’ in Japan, het sowat 9 megawatt krag verbruik. Dít is genoeg om ’n dorp van duisende huishoudings van elektrisiteit te voorsien.
Hierdie kontrastering wys daarop dat die brein se biologiese ontwerp buitengewoon doeltreffend is. Neurone kommunikeer deur elektrotermiese impulse en gebruik meganismes soos sinaptiese plastisiteit en parallelle verwerking, wat dit moontlik maak om met baie min energie enorme hoeveelhede inligting te kan verwerk.
Navorsers gebruik hierdie beginsels as inspirasie vir ‘neuromorfiese rekenaars’. Kortom is ‘neuromorfiese rekenaars’ kunsmatige stelsels wat probeer om die brein se energie-doeltreffende argitektuur na te boots. Die hoop word deur wetenskaplikes gekoester dat elektroniese tegnologie uiteindelik sulke kragtige berekenings teen lae energie sal kan lewer – soos wat die brein al sedert die skepping van die mens deur God in die Tuin van Eden, vir miljoene jare doen. Weereens ’n ‘op die skouer klop,’ vir die Skepper van die mens en die menslike brein.

Voorts, wat bewussyn en subjektiwiteit betref, bestaan daar tot op datum ook geen elektroniese tegnologie wat oor die vermoë beskik om ‘bewus’ te wees nie. Selfs die mees gesofistikeerde kunsmatige intelligensie, wat menslike taal kan naboots of beeldherkenning kan uitvoer, bly ’n instrument sonder ‘selfbewustheid’.
Die menslike brein, aan die ander kant, skep, lewer en produseer subjektiwiteit, emosies, identiteit en beskik ook oor die vermoë tot self-refleksie. Hiérdie dimensies van menswees onderstreep die absolute uniekheid van die Godgeskape menslike brein. Voorts beklemtoon dit ook die feit dat dit nie in transistors of kode vasgevang kan word nie. Hierdie kompleksiteit van die menslike brein kan egter nie, al probeer rekenaarkundiges hoe hard ookal, deur elektroniese tegnologie vervang word nie. (Daar word wel pogings aangewend deur rekenaarkundiges om voormelde uniekhede van die menslike brein in die elektroniese netwerk ‘in te bou’― dink maar byvoorbeeld aan Kunsmatige Intelligensie, (‘AI’) en ‘Chat GPT’’ wat soos voormeld, op almal se lippe is. Ek glo dat God die mens geskep het en hom met ’n unieke brein toegerus het om onder andere self ook skeppend te wees, maar dat God vir die mens ’n denkbeeldige streep getrek het, en gesê het: “Mens, oor hierdie streep gaan jy nie.” Tog hunker die mens om oor daardie denkbeeldige streep te gaan. Die vraag wat voortdurend by my opkom is … hoekom? Wil ons nou God speel? ― dit is net terloops my persoonlike mening. Ek aanvaar dat die elektroniese tegnologie met my siening mag verskil, maar totdat ek verkeerd bewys word, sal ek my siening wat op my persoonlike geloofsoortuiging gebaseer is, handhaaf.)

Verder is die menslike brein ook uniek in die sin dat dit nie in isolasie bestaan en funksioneer nie, maar dat daar ’n voortdurende samewerking tussen die brein, die liggaam en die omgewing waarin die mens funksioneer plaasvind. Die menslike brein is geïntegreer met die menslike liggaam en sy sensoriese stelsels, by name hormone, spiere en selfs die mikrobiome in die dermkanaal. Hierdie ‘interkonneksies’ het tot gevolg dat menslike denke en emosies nie slegs uit neutrale aktiwiteite voortspruit nie, maar wel ook uit liggaamlike en omgewings-interaksies.

Die elektroniese tegnologie daarenteen is ‘afgesonder,’ in die sin dat dit afhanklik is van sensors asook insette en uitsette wat kunsmatig ontwerp is en gevolglik beperk is tot dit wat mense tot sy beskikking stel. In kort – die elektroniese tegnologie, hoe wonderlik ookal, is ondergeskik en afhanklik van die menslike brein om effektief binne voorafbepaalde grense te funksioneer. (Natuurlik sal jy rekenaartegnoloë kry wat daardie grense wil oorskry en poog om dit te aktualiseer.)

Wat die evolusionêre en kulturele dimensie van die menslike brein betref, dien daarop gewys te word dat die brein ’n biologiese orgaan is wat die vrug van ontwikkeling oor miljoene jare dra. Gevolglik is die menslike brein ook die draer van spore van oorlewingswyses, soos onder andere sosiale aanpasbaarheid en kulturele gedrag wat van geslag tot geslag oorgedra word en sodoende ontwikkeling en vorm aan menslike beskawing gee.
Die moderne tegnologie word wel vinnig verfyn, maar dit bly afhanklik van menslike ontwerp en kultuur. Dit het geen vermoë tot selfstandige ontwikkeling in die biologiese sin van die woord nie.

Dit bring my dan tot die volgende gevolgtrekking;
• Wanneer ons die brein vergelyk met moderne elektroniese tegnologie, sien ons dat tegnologie indrukwekkend is in terme van spoed, akkuraatheid en geheuekapasiteit. Tog is dit beperk tot voorafbepaalde funksies;
• Die menslike brein, daarenteen, is ’n dinamiese, aanpasbare, energie-doeltreffende en bewuste stelsel wat nie net inligting verwerk nie, maar ook betekenis, emosie en identiteit skep;
• Die kompleksiteit van die brein lê nie net in sy triljoene verbindings nie, maar in die manier waarop dit lewens, kultuur en bewussyn vorm;
• Daarom is die menslike brein se samestelling ongetwyfeld meer kompleks as enige moderne elektroniese tegnologie wat tans bestaan;
• Die elektroniese tegnologie kan sekere take vinniger uitvoer, maar die menslike brein is uniek in sy vermoë om te leer, te voel, te verbeeld en sin te maak, iets wat geen masjien nog ooit kon naboots nie;
• Dat die menslike brein in der waarheid die ‘biologiese rekenaar’ is, wat deur God in Sy persoon self geprogrammeer is; en
• Tydens die skepping van die mens in die Tuin van Eden, na Sy beeld en Sy gelykenis het God Sy ‘biologiese rekenaar,’ die menslike brein, in die mens ‘ingebou’.
—————————————————-oooOooo——————————————–
©Pieter Mostert

WOORDOMSKRYWING

• Die woord sinapies, is saamgestel uit die Griekse woorde syn, wat ‘saam’ beteken en ‘haptyn’, wat ‘verbinding’ of ‘om saam te voeg’ beteken. “Die woord synaptic verwys na iets wat verband hou met sinapsis, wat die verbinding is tussen twee neurone in die senuweestelsel. Dit sluit die prosesse in verband met die oordrag van seine van die een neuron na die ander in, insluitend die vrystelling van neurotransmitters en die aktivering van die volgende neuron.”
• “Neurone is die fundamentele eenheid van die senuweestelsel wat gespesialiseer is om inligting na verskillende dele van die liggaam oor te dra.” Neurone is die boustene van die senuweestelsel. Hulle ontvang en stuur seine na verskillende dele van die liggaam. Dit word in beide fisiese en elektriese vorme uitgevoer. Daar is verskillende soorte neurone wat die oordrag van inligting vergemaklik.”
Intrinsiek verwys hier na eienskappe of waardes wat inherent is aan die onderwerp of van binne kom en wat nie van eksterne faktore afhanklik is nie.

BRONNELYS

• Bear, M.F. Connors, B.W. & Paradiso, M.A., 2016. Neuroscience: Exploring the Brain. 4th ed. Philadelphia: Wolters Kluwer.
Dake’s Annotated Reference Bible Old and New Testament (1963) F.J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
Die Bybel 1953 vertaling Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.
• Doidge, N. 2007. The Brain That Changes Itself. New York: Viking.
• Du Plessis, Isak. God en Wetenskap – en ons wat glo. 2003: Lux Verbi, Kaapstad.
• Freud, S. (1923). The Ego and the Id. London: Hogarth Press.
• Kandel, E.R. Schwartz, J.H., Jessell, T.M., Siegelbaum, S.A. & Hudspeth, A.J., 2013. Principles of Neural Science. 5th ed. New York: McGraw-Hill.
• Kolb, B. & Whishaw, I.Q., 2015. An Introduction to Brain and Behavior. 4th ed. New York: Worth Publishers.
• Mostert, P. (2025). Die Aanslag op jou Gedagtes. Groep 7 Drukkers & Uitgewers Edms Bpk Pretoria.
• Purves, D. Augustine, G.J., Fitzpatrick, D., Hall, W.C., LaMantia, A.S. & White, L.E., 2018. Neuroscience. 6th ed. Oxford: Oxford University Press.
• Solms, M. (2013). The Brain and the Inner World: An Introduction to the Neuroscience of Subjective Experience. London: Karnac.
• Westen, D. (1999). Psychology: Mind, Brain and Culture. New York: Wiley.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed