
Die prys van die liefde. (BRONS)
Die prys van die liefde.
As ek so sit en dink aan die liefde, wonder ek of outydse liefdesverhale nie net soetsappige snert was nie. Daardie soort verhale waar paartjies verlief geraak het, maar dan gebeur daar iets wat die verliefdes uitmekaar hou en dan voila! kom hulle weer bymekaar uit. Die uiteinde is dan dat hulle gewoonlik lank en gelukkig saamleef.
Gaan sit egter en probeer jy nou ʼn liefdesverhaal optower kom jy baie gou agter dat dit nie so maklik is om die “alles eksie perfeksie liefde” op te tower wat ons in Hollywood sien nie. Op sosiale media beleef ons amper daagliks “jy is die heel beste ding wat nog ooit met my gebeur het” verhoudinge.
Dit laat my wonder wat is liefde dan? As jy vir Google vra, is dit sommer ʼn hele verskeidenheid van komplekse emosies, optredes en opvattings wat direk hand-aan-hand loop met definitiewe sterk gevoelens van getrouheid, beskerming, warmte en respek teenoor iemand anders as jyself.
Ek dink egter dat liefde so ʼn geykte uitdrukking is in die tyd waarin ons vandag leef. Elkeen van ons het besliste vooropgestelde idees van hoe liefde behoort te wees – hoe ons dit moet ervaar en selfs hoe dit op die oog af ook moet lyk. Meeste van die skoner geslag is versot op goeie romantiese flieks, luister na die mooiste musiek, lees baie oor die onderwerp en lees soms ook gedigte. Dit word dan die grondslag wat ons in ons verhoudings soek.
Daar is geen beter samevatting oor die liefde as die wyse Salomo se woorde nie:
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.’ – 1 KORINTIËRS 13:4-8
Ons kyk egter uit die menslike oogpunt na die veelbesproke onderwerp oor die liefde: as mens iemand ontmoet – kyk jy hoe hy of sy lyk, sy familie, sy betrekking, sy opvoeding en helaas ook sy kwalifikasies, maar: sien ons die mens raak?
Alhoewel liefde nie aan ouderdom gekoppel kan word nie, dink ons dat die ouderdom ook ʼn deurslaggewende rol moet speel in die ervaring van liefde. Sommige mense is van nature net baie meer volwasse, daarom dink ek nie dat die ouderdom die mees belangrikste aspek is om na te kyk as jy op soek is na liefde nie. Soos Francois van Coke sing: dit raak beter as jy ouer raak maar soms sukkel ouer mense selfs nog meer om liefde te ontvang of selfs te betoon teenoor ander. Veral mans het opgegroei met die idee dat ʼn man nie liefde of emosies moet wys nie.
Ek dink ook aan ʼn spesifieke versie in Spreuke 30 wat sê: “Daar is drie dinge, nee, vier, wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe ʼn aasvoël in die lug bly, hoe ʼn slang teen ʼn rots op seil, hoe ʼn skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ʼn man en ʼn meisie werk”.
As die mees wysste man wat ooit op aarde gewandel het, Salomo, dit nie kon verstaan gaan ek nie verder probeer om te verstaan hoe die liefde werk nie.
Liefde lyk anders in vandag se tyd, soms kyk ons dit mis en sien nie as liefde reg voor ons oë is nie – dalk is dit tyd vir ʼn besoek aan ʼn oogarts.
©Marlene Erasmus
30/09/2020
(634 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2020 – Liefdes-projek