Die roerende resonansie van Skipskop.
Die roerende resonansie van Skipskop.
Ek was maar nog ʼn jong, langbeen meisiekind wat met verwondering na die wêreld gekyk het toe ek hierdie lied die eerste keer gehoor het. As ʼn skaam, teruggetrokke kind het ek my dikwels tot musiek se geselskap gewend. Musiek was vir my ʼn groot bron van vreugde en ʼn wegbreek van die roetine van skoolwerk. Maar daardie dag toe ek die eerste keer na Sonja Heroldt se Skipskop geluister het, het musiek vir my ʼn nuwe dimensie gekry. Musiek het vir my ʼn deur na my siel geword, ʼn refleksie van menslike ervarings.
Dit was nie bloot net nog ʼn melodie nie, die lied het my met baie emosies gevul. ʼn Mengsel van nostalgie, verlies en begrip is by my gewek. Die lirieke het die verhaal vertel van ʼn persoon se trauma van gedwonge verhuising. Hy moes die plek verlaat waar hy as kind opgegroei en grootgeword het. Die afskeid was emosioneel en die onsekerheid oor die toekoms was groot. Daar word gepraat van die gevoel van losmaak van die verlede en die aanvaarding van nuwe omstandighede.
Die reëls: Maar wat ken ek anders as die Bloudam se branders, wat talle kere herhaal word, beklemtoon die diep verbintenis wat die persoon met die plek gevorm het. Dit herinner ons ook daaraan hoe moeilik dit kan wees om die plek waar ons opgegroei het, te verlaat. As die plek al is wat ons geken het, voel dit nog moeiliker.
Vroeg in my lewe het Skipskop vir my ʼn baie waardevolle les geleer: die belangrikheid dat aanvaarding en aanpassing in die lewe, onvermydelik is. Die mens se lewe is vol onsekerhede, en ons word dikwels gedwing om situasies te aanvaar wat ons nie self beplan het nie. Natuurlik het ons altyd die keuse: bly vasklou aan die verlede, of aanvaar dat die lewe jou in ander rigting kan neem. Dan moet jy net aanpas by jou lewe se nuwe realiteite.
Die lied is vir my die sinnebeeld van die onvermoeidheid van die mens se gees. Skipskop se verhaal is ‘n bewys van die mense se vermoë om situasies van verlies en verandering te verwerk. Skipskop se verhaal praat spesifiek van die situasie waar daar van ʼn plek afskeid geneem moet word, maar dit het my ook gehelp om te besef dat almal van ons ons eie ‘Skipskops’ het. Die dinge, plekke en mense wat ons moet agterlaat as die lewe se spoor ons weglei.
In ʼn breë konteks het die lied my geleer om my verlede agter te laat, die hede te omhels en die toekoms met oop arms te verwelkom. Al verloop dinge nie altyd soos ons dit voorsien nie, is daar altyd ʼn nuwe dag, ʼn nuwe begin en kans op ʼn nuwe hoofstuk in die vooruitsig.
Elke keer as ek Skipskop hoor, al is ek nou al heelwat ouer, word ek opnuut herinner aan die lewenslesse wat dit vir my leer. Die rol wat hierdie lied vir my speel, is kosbaar.
Ek sluit af met die lirieke van Skipskop.
Pak op, pak op!
Sit jou goedjies op jou kop.
Môre gaan ons weg,
ver van hier weg.
Skipskop, Skipskop,
wanner hou die dinge op?
Swaarkry lê net voor,
die Blouberge oor.
Overberg se mens is ek gebore
op dié plek, Skipskop,
nes my pa, en sy pa ook.
Hier deur die duine
loop ons se spore.
Hier op die beach,
hier langs die see is ek gedoop.
Maar wat ken ek anders
as die Bloudam se branders,
en die wolke
en die winde wat hier waai?
Verkoop jou bootjie,
pak op jou goedjies,
en sê maar “So long Skipskop –
Skipskop, sê ‘Goodbye.'”
Die linkerhand
of die regterhand?
Watse kant lê die plek,
Misverstand?
Asseblief, Meneer,
ag, sê tog weer,
is dit die pad
wat ons moet môre vat?
‘n Stukkie lê hier
en ‘n stukkie lê daar,
die stukkies van my lewe
hulle lê baie deurmekaar.
Tel op vir Shorty,
en tel op vir Pop.
Gaan haal vir Apie
en hou daai kindjie dop!
Maar wat ken ek anders
as die Bloudam se branders,
die wolke
en die winde wat hier waai?
Pak op jou goedjies
en verkoop jou bootjie,
en sê maar “So long Skipskop –
Skipskop, sê ‘Goodbye.'”
Maar wat ken ek anders
as die Bloudam se branders
die wolke
en die winde wat hier waai?
Verkoop jou bootjie
pak op jou goedjies,
en sê maar “Skipskop, so long –
Skipskop, sê ‘Goodbye.'”
“So long Skipskop –
Skipskop, sê ‘Goodbye.’
©MarleneErasmus
30/08/2023
(501 woorde SONDER titel en Skipskop se lirieke.)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek