
Die tuiskoms.
Die tuiskoms.
Met die sing van die Mini se bande in haar ore verkyk Mia haar na die vlaktes wat so verlate staan. Dit is net ʼn geroeste windpomp wat die geheim verklap dat hier ooit mense was. Met net hier en daar ʼn plant, lyk die landskap soos ʼn pure spookwoud in die flou winterson. In die stilte, met die motor se geluid, is dit net jou eie gedagtes wat jou op ʼn dag soos vandag kan pla.
“Hoekom moet die reünie nou juis op die ou familieplaas wees?” wonder sy hardop as Soetwater voor haar opduik. Soetwater, die klein dorpie met net ʼn paar oulike huisies, ʼn dokter en ʼn polisiekantoor. Die algemene handelaar: Die Opstal het een petrolpomp vir ʼn noodgeval as reisigers hul misgis met deeglike beplanning.
Dit voel kompleet of daar ʼn onheilspellende, misterieuse gevoel oor die dorpie hang wanneer Mia voor Die Opstal stop. Sy klim uit, rek haar bene en strek haar arms in die lug terwyl sy nuuskierig om haar rondkyk.
“Waar is al die mense?” dink sy wanneer sy na die byna verlate stofstrate kyk.
Mia besef sy is vreeslik dors soos wat sy die gekraakte trappies opklim om vir haar iets koel vir haar droë keel te gaan kry.
Die vriendelik ou gryskoptannie agter die toonbank wys my waar om die koeldrankkas te vind. So met die omdraai merk ek verbaas op dat daar sowaar nog ʼn mens in die plek is. Nogal ʼn interessante prentjie wat ek voor my gadeslaan; ʼn vooroorgeboë figuur met ʼn breërandhoed so half oor sy gesig gevou. Hy loer aandagtig na die stukkie papier in sy hand en pak sy aankope een-vir-een in die mandjie voor hom.
Oorval deur my nuuskierigheid, stap ek so terloops nader om in sy mandjie te loer. Skielik hoor ek ouma Lilly se stem in my agterkop: “ Van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg!”
Ek skud so effens my skouers asof ek haar stem wil stilmaak en kyk na die inhoud van die man se mandjie.
“’n Blink kapbyl, groetekaartjie, ʼn bol swart wol, Atrix-handeroom, gedroogde vrugte en ʼn Lexington-sigaretaansteker.”
“Wat ʼn interessante kombinasie van artikels bymekaar?”.
Ek vat my Fanta en groet vriendelik toe ek Die Opstal verlaat.
Terug in die motor skakel ek die radio aan en luister na die liedjie: Ek reis na Gister.
“En die tyd staan skielik stil
Ek mis my ma se kos
Ek staan weer voor ons huis
Ek sal my hart weer hier moet los …”
My gedagte gaan skielik terug na die vreemde man in Die Opstal en die items in sy mandjie.
Langs die vuurtjie sit hy en kap-kap aan die beeldjie wat hy tussen sy groot growwe hande vashou. Hy dink aan die liefde van sy lewe: Leila, wat in die Alzheimer-tehuis is. Hulle lewe lank het hulle alles saamgedoen, hulle is die ‘skoolkys’ wat later in die huwelik oorgegaan het. In die begin van hul huwelik het hy as houtwerk-onderwyser gewerk terwyl Leila tuis die pot aan die kook gehou het.
Reeds vroeg is hulle tweeling gebore en moes Leila met haar vernuftige handewerk die gate probeer toestop met ekstra inkomste. Tussen die huishouding deur het Leila die mooiste gebreide klere gemaak. Die trots in haar oë as sy vir hom die truitjies wys, proe soet in Fanie se gedagtes.
Fanie neem die Lexington-sigaretaansteker en steek ʼn vuur aan om die koue te verdryf. Hy haal die groetekaartjie uit om vir Leila ʼn briefie te skryf soos wat hy elke maand op die elfde dag doen. Sedert hy Leila gevra het om te sy nooientjie te wees, het hy vir die afgelope dertig jaar elke maand vir haar ʼn brief geskryf. Met groot liefde sit hy die houthartjie wat hy gekerf het in ʼn mandjie met die gedroogde vrugte, haar gunsteling. Hy sit ook die Atrix-handeroom langs die bol swart wol en groetekaartjie in.
Hy staan op.
“Dalk is dit vandag een van die beter dae en herken Leila my as ek haar besoek.”
Mia vee die trane saggies af.
Die mooi van die lewe slaan haar tussen die oë as sy na die groot oranje son kyk wat lui wil gaan slaap.
Sy draai die motor se neus by die plaashek in en kyk na die strepies deurskynende turkoois op die ou plaasdam. Daar sak kalmte oor haar as sy die vars aandlug vol beloftes inasem.
“Ek het tuisgekom, ek is by die huis … ”
©Marlene Erasmus
05/05/2022
(725 woorde)
3 Kommentare
-
Elizabeth
Mooi Marlene.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2022 OOP projek