Digvorm: Doleo (Opdrag 8)
Digvorm: Doleo (Opdrag 8)
Doleo in Latyn beteken letterlik om pyn te ervaar. In geestelike sin beteken dit om te treur of te kla.
Mens is besig om homself op aarde dood te leef en die natuur en uiteindelik homself te vernietig. Hierdie is ‘n soort elegie – treurlied – oor die vernietiging van die natuur as gevolg van die mens se versteurde verhouding daarmee.
Doel van die digvorm: Om die leser onder die indruk te bring van die dilemma – die “ekologiese onbewustheid” van ons dade om hopelik só bewustheid te skep.
Die digvorm bestaan uit drie strofes van 5 reëls elk en ‘n slotstrofe van 4 reëls.
In die eerste 3 strofes word die wisselwerking tussen die natuurverskynsel en die mens geskilder en die mens se vernietiging daarvan.
Emosie word opgewek wat oploop tot ‘n klimaks met ‘n retoriese vraag in die derde strofe wat die futiliteit en ontreddering beklemtoon – ‘n beroepdoening op die leser se gewete.
Die 4e strofe is ‘n gelate waarneming van die hopeloosheid van die situasie, hetsy in die hede of die verre toekoms.
Maak gebruik van gebroke rym sonder ‘n vaste patroon ten einde die gebrokenheid van die natuur en die mens se interaksie daarmee te beklemtoon met ten minste twee reëls in elke strofe met eindrym.
Jou gedig moet oor ‘n goeie ritme beskik deur die gebruik van een of meer van die volgende – binnerym, alliterasie, assonansie, uitheffingstegnieke, enjambement, herhaling van klanke, lettergrepe, woorde, sinskonstruksie, versreëls en enige stylfigure ten einde op te werk tot ‘n klimaks.
Slotstrofe: herhaling van woorde of beelde uit die vorige strofes om pyn en die onherroeplikheid daarvan te beklemtoon.
Visuele stimulasie sal heel waarskynlik bydra tot die skryf van so ‘n gedig, dus mag ‘n foto gebruik word om die leser verder onder die indruk van die probleem te bring.
Grafskrif
As stil teen ruwe rotse
gestorwenes hul nood uitkreet
enkeldimensioneel verbeeld,
eens trotse adel van die grotes
wat megafauna heet
as dit al is wat sou oorbly
– ‘n herinnering in rotsgravuur
wat bloot graffiti word
‘n bespotting en ‘n grafskrif
geskrifte teen ‘n muur –
het dan mens die stryd verloor
meëdoenloos, onverpoosd
gedryf deur gierigheid
sy eie grafskrif ingraveer
met bloed in elke skeur?
*******
Stil-verstom teen ruwe rotse
staar hul oor ‘n doodsvallei
– Homo sapiens, Rhinocerotidae –
al wat oorbly – die herinnering
aan tye lank verby
©Estelle Rubow
28/08/2018
7 Kommentare
-

Driekie
Dit baie goed gedoen, bly ek hoef nie hierdie opdrag uit te voer nie ;)
-

Elroux
Uitstekend gedoen Estelle
-

Viooltjie
Goed gedoen, Estelle 😃
-

Carin Erasmus
Wow!!!
-

Callie Vermeulen
Pragtig Estelle. Hou van jou skepping.
-

Loretta Szikra
Mooi gedoen Estelle.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie