Jongste aktiwiteit:

Demensie

My ma sê sy kan nie uit die huis kom nie
want dit vervul jou met angs, en sy vrees
dat – indien sy nie vinnig weer tuis kom nie –
daar woede en vrae in jou stemtoon sal wees.

Sy sê jy het weer in die nag op gestaan –
slaaploos, verward en vir die donkerte bang
en sover as jy loop, sit jy ligte aan
tussen jou kamer en die punt van die gang.

Jou vingers – wat eens flink was – het dom geraak.
Dis vreemde hande wat jou aantrek en was.
Die krag in jou bene – dié het jou versaak.
My ma hou jou beker en vurk vir jou vas.

Kort na dagbreek – in ‘n skemer hospitaal –
het dood toe die lig uit jou blink oë kom haal.

© C. Shaw
24 November 2016




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

7 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed