EFFATA
Effata.
So om-en-by 20 kilometer noord van die hedendaagse Israel-Lebanon grens was Sidon en 32 kilometer suid was Tirus. Jesus, seun van Josef en Maria, kom nou van Tirus af. Daar het hy bose geeste opdrag gegee om die dogter van ’n heidense Siriese vrou, te verlaat. Sy is verlos. Hy is op pad na die see van Galilea en kies die pad wat deur Sidon gaan. Die see van Galilea is eintlik ’n varswater-meer. Nie regtig ’n see vol golwe met ’n eindelose horison nie. Dit lê in die Dekapolis. Dis ’n groot woord wat beteken: ‘tien stede’. Alhoewel die Dekapolis in die hart van die Romeinse kultuur is, is die inwoners meestal Jode wat Hebreeus en Arabies praat.
Langs die pad herken ’n klompie mense vir Jesus en keer hom voor. Hulle het sy hulp nodig, want sien, hulle het ’n doofstom vriend. En hulle wil hierdie vriend gesond hê. Hulle weet ook verseker Jesus kán dit doen.
Omri het ’n liederlike ongeluk gehad toe hy maar nog net ’n nuuskierige jong seun was. Hy was altoos aan’t eksperimenteer met konkoksies van verskeie vloeistowwe. ’n Wetenskaplike in sy kinderskoene. Hy het al van plofstowwe gehoor, maar dit nog nooit ervaar nie, tot daardie dag. Hy het twee stowwe ’n klein bakkie gemeng en hom verbeel hy hoor ’n effense bruising, maar was nie seker nie. Om beter te hoor, het hy sy regteroor tot byna teen die bakkie gebring. Een oorverdowende ontploffing het plaasgevind, wat hom met ’n boog deur die lug laat vlieg het.
Eers toe iemand hom van die vloer af optel, het hy weer bygekom. Met singende pynlike ore. Hy het nooit weer gehoor nie. Daarom het sy spraak ook mettertyd versleg. Vandag verstaan niemand meer wat hy probeer sê nie. Hy leef nou klankloos en spraakloos en op die buiterand van die samelewing. ’n Patetiese figuur, maar sy vriende het geglo: ‘Jesus van Nasaret, kan hom gesond maak.’ Daarom pleit hulle nou by Jesus, namens Omri.
Jesus beduie dat Omri hom moet volg, weg van die skare af wat so saamdrom en aanstaar. Hy keer die vriende wat wil saamgaan en stap alleen verder saam met hom. Sy hart gaan uit na Omri en hy wil verhoed dat hy ’n nog groter spektakel word, as wat hy alreeds is. Buite hoorafstand gaan staan hy stil en kyk Omri in die oë. Hy lees smeking en hoop in die man se helder blou oë.
Toe doen hy die ondenkbare. Hy sê niks, want Omri kan mos in elk geval niks hoor nie. Hy druk ’n vinger in elk van Omri se ore. In die aanraking, weet Omri wat hy wil doen. Daarna spoeg hy in sy een hand en wys vir Omri om sy tong uit te steek. Hy smeer spoeg aan ’n vinger en raak Omri se tong aan met daardie einste vinger. Jesus kyk op na die hemel en roep uit sy diepste binneste met ’n diep kreun: ‘Effata!’ Of soos ons sou sê: ‘Gaan oop!’ Op daai oomblik het God se krag, deur sy vingers na Omri se ore en tong gevloei en iets het voorwaar oopgegaan.
Omri kan dit byna nie glo nie, maar tog… dis ongelooflik gelooflik! Hy kan weer hoor! Hy wil ’n woord stotter, maar sy stem kom klokhelder deur! Hy kan praat! Hy kan sing! Hy kan juig! Jesus het dit gedoen! Uit deernis en deur ’n aanraking met sy eie hande!
Intussen het baie mense in afwagting en nuuskierigheid nader gesluip. Hulle hoor ook en wil saam met Omri jubel. Jesus vra dat hulle nie iets hieroor moet sê nie, maar hulle is onkeerbaar! Uit pure verbasing. In geweldige aangryping deur hierdie gebeure verkondig hulle luidkeels:
‘Alles wat hy doen, is goed! Hy laat die dowes hoor en die stommes praat!’ Daar is niks, hoegenaamd niks wat hy nie kan doen nie. ’
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.