Ek is bang jy dood sonder my
ou wroeg loop weer knopkierie oor
rûens van hierdie erbarmlike land –
waar kinders dood gebore word
en kanker soos rooiroes aan ronkspante toiing
jou woede kook soos putwater uit droë fonteine
waar wolke laag en bleek hang
teen uitgemergelde wasgoeddrade van ‘n
Afrika hemel
jy huil skaamteloos oor jou fertiliteit
nie die genepoel kon onteer met
jou eie aweregse saad nie,
oor jou bloudruk glansloos geword het teen ‘n kuslyn
wat bars van wedergeboorte
jy staar net en praat al vir weke nie meer nie;
so asof jy wag vir my om ook te dros,
van jou gebreekte knieknoppe
jou kromgetrekte hande
al wat ek kan doen is om elke dag
‘n vars son vir jou uit te pof,
die suidewind te roep om die werf skoon te vee
en gedwee met ‘n erdeskottel louwarm water
by jou voete te sit –
te wag vir jou kopknik
om jou voete te mag was.
© Almarie Truter
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.