Ek sien haar
ek sien die dogtertjie sit
ek sien haar al lank daar sit
sy is toegepantser met haarself
ek sien verdikkings in haar hart
haar gees, haar lyfie
op die grond sien ek haar sit
knietjies opgetrek, hande in die sand
stof wat dwarrel om haar
traanstrepe droog op haar wangetjies
vandag tree ek uiteindelik nader
sak ek voor haar neer
vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde
deins sy terug
maar die ruggie word styf
die koppie lig
die kennetjie bewe met determinasie
eenderse blou oë ontmoet mekaar
eenderse krulle lig in die wind
die blink in haar oë
weerkaats die blink in my oë
lank staar ons net na mekaar
dan lig sy haar vuil handjie
raak aan my bril, my wang
op dieselfde oomblik begin ons glimlag
die eenderse kuiltjies verskyn
sy begin giggel
uit haar magie lag
die onbekende klank daarvan
verras my
ek vat haar handjie
ons help mekaar op
sy kyk verwonderd
maar vraend op na my
ek beduie na die twee-spoor plaaspaadjie
vandag vra ek nie oor traanstrepe nie
tyd genoeg sal kom
vandag vertel sy my van haar gunsteling stories
Dora die donkie
Twee katjies bou ʼn karretjie
Die eend wat die goue eiers lê
die laaste twee het sy vir haar verjaarsdag gekry
haar sewende verjaarsdag
ons kyk na mekaar
glimlag weer
sy weet ek sien haar
ek weet sy sien my
ons weet ons is ‘Ek’
(Ons is ek gedagtes)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.