Ek wens vir jou ‘n lentevoël
As jy ooit drie-uur in die môre wakker lê
(soos jou ma)
onthou, my kind
onthou
dis net ‘n uur of twee voor die voëls weer sing
net ‘n uur of drie
voor die son haar eerste strale bring
en jou nag in dag omtower.
Ek hoop jy wéét . . .
daar sal altyd duiwe in die bome wees
tortelduiwe
wat lustig koer
en mossies op die grasperk
wat sommer net rumoer.
Die suikerbek sal nektar drink
uit die kanferfoelie tuit
die geelvink sal ‘n nessie bou
die rooivlerkspreeu sal fluit.
Muisvoëls sal pers blomme vreet.
Moet dit nooit vergeet.
Die kiewiet sal haar kinders
met waagmoed bly beskerm.
Die arend sal haar kuiken vlerke gee.
En al woed die storms ookal hóé
die albatros vind rigting oor die see.
***
En ék,
ek wens vir jou ‘n lentevoël
langs al die paaie waar jy loop
en al is die nag soms donker
‘n oneindigheid
. . . aan hoop
C. Shaw
22 Oktober 2015
2 Kommentare
-
neels
Carma hierdie pragwerk verdien beslis tien goue sterre
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
sjoe hierdie is so mooi.. ek vat hierdie wense vir myself... puik gepen Carma