
Elke diertjie soek sy plesiertjie
(Woordtelling 832)
Om in ʼn kompleks te woon kan die heerlikste gevoel van samesyn skep, of dit kan te vinnig in die grootste nagmerrie ontaard. Hierdie gevoel van tevredenheid hang grootliks af watter buurman sy intrek langs jou neem en of julle tweetjies se gewoontes ooreenstem. Indien dit bietjie krapperig gaan, is daar natuurlik geen sprake van ʼn lekker hier-is-ons-deel-van-ʼn-groter-familie nie.
En so is dit dan ook baie hartseer wanneer mens twee keer bly raak oor ʼn ander se teenwoordigheid, eerste keer wanneer jy hulle ontmoet, en dan weer as hulle hul goedjies pak en hopelik die land verlaat. Laat iemand anders daar doer ver met hul lawaai regkom, want hier is dit erger as om ʼn turksvy ongeskil af te sluk.
Dit het ʼn jaar gelede begin toe die nuwe bure ons met hul middernagtelike, romantiese onderonsies begin vermaak het. Ons weet maar almal dat daar intieme oomblikke tussen man en vrou sal wees, maar ons hoef dit darem seker nie uit te saai vir almal om te hoor nie! Elfuur, twaalfuur, twee uur, selfs vier uur word jy deur daardie gille van plesier wakker geskree. Goeiste genade, slaap die mense dan nooit? Maar dit was veral wanneer die kat weg was, wat die muis haar twee man-maatjies oorgenooi het vir ʼn lekker plesierige partytjie. Almal binne hoorafstand word onwillekeurig daarby betrek en ek kan byna sweer ons slaapkamervensters wasem van die buitekant af toe – en dit het niks te doen met die winter nie. ʼn Voorstel dat hierdie loskop dolla en haar maatjies hul luidrugtige maniere moet terugneem waarvandaan dit gekom het, was toe ook nie so goed ontvang nie.
Boonop is hul motorhuis ook direk langs ons slaapkamer en dit was nogal ʼn probleem wanneer hulle tydig en ontydig iewers tussen middernag en vier uur soggens terugkeer huis toe – dikwels reeds goed gepreserveer. Dan vibreer die lug soos die motordeure toegedon…, ekskuus, toegeklap word. En mooipraat het ook nie gehelp nie. Die reguit versoek dat hulle asb. hul slápende bure sal respekteer, lok die teenoorgestelde reaksie uit, en daarna het ons behoorlik deurgeloop.
Jittetjie tog, dat sommige mense so vokaal en luidrugtig kan wees! Partymaal het die son nog nie eens sy kop oor die horison gesteek nie, dan breek daar al ʼn geveg onder die vryende bure uit. Dan word die klappende deure nie beperk tot die motor nie, maar die huis se binnedeure het alle kosyne laat vibreer van skok. En dit is nie net een of twee keer se toeslaan en dan is alles oor en verby nie! In my verbeelding kon ek sien hoe hulle weerskante van dieselfde deur staan en mekaar beurte gee om dit met mening toe te klap. Dit is verseker mense wat met oorgawe leef en vry, of baklei. Dat hulle nog nooit geleer het om soos beskaafde mense in stilte te baklei nie, is ook duidelik. Jy weet, daardie stywe trek op jou gesig, ruggie reguit asof jy ʼn laaistok ingesluk het, rollende oë, lippies maar lekker dun getrek, en niemand praat ʼn woord nie. Die wonderlike stilstuipe waaruit niemand eens ‘n ordentlike oplossing kry nie. Dit is nou nie eintlik ʼn gesonder manier om jou geskille op te los nie, maar darem weet die bure nie van elke vuurwarm onderonsie nie.
Dit was eers toe ek vir hulle so wragtag uit die diepte van my hart jammer gekry het, dat ek besef het die koeël nou finaal deur die kerk is. Mens kan ook nie vir iemand meegevoel hê en ook kwaad raak vir hul kinderagtige stuitigheid nie. Die jammerte het meer gegaan omdat hulle nog moet grootword, en op die oog af gaan dit ʼn baie moeisame pad wees. As mens darem al jou dertigste verjaardag sien naderkom en jy tree nog soos ʼn onvolwasse student op, dan weet jy die pad gaan lank en moeilik wees.
En so val ek toe weer een nag uit die bed van pure skrik. Dit is pas twaalfuur en die bure kom nie tot rus nie. So lê ek dan ook en luister hoe hulle nie net die motordeure toeklap en gaan slaap nie, maar aanhoudend oop en toemaak, oop en toe. Dan ry hulle iewers heen en vyf minute later herhaal die hele storietjie homself. Teen drie uur die oggend is alles uiteindelik stil. Nou is daar net een of twee ure se slaaptyd voordat ek vir werk moet aanmeld.
My ogies is is maar dik geswel van die min slaap, maar ek kon sien dat die bure se huis dolleeg is. Nie ʼn enkele gordyn in sig nie. Die opkomende son verlig die vertrekke soos ek dit nog nooit gesien het nie. Net skelms trek in die middel van die nag, maar skynbaar skreeubekke ook. Dalk het hulle geweet dat die bure baie openlik bly sal wees wanneer die sweer in die klein gemeenskap uiteindelik verkas.
En vir die res van ons, nou kan ons weer terugkeer na ons vroeëre gevoel van saambindende vriendskap en samesyn – sonder die lastige kinders.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2022- Samesyn projek