
En dalk nog Simonsberg se hang
dis oukei as jy wil weggaan
terwyl die muisvoëls bessies vreet
– ek verstaan as jy van alles
en van die mossies wil vergeet
en van die boom en die visdam,
die skewe grense om my tuin;
van my houthuis met die venster
en die son wat daardeur skyn
(dis net ek en die duiwe
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke lente na die koms
van jou voetval sal verlang)
dis oukei as jy wil groet –
ek sal steeds in skadu’s rus;
die wind wat oor my skouer speel
sal my troebel siel kan sus
en die lelies wat so oopmond lag
in die hitte van die uur
sal jou omdraai en jou wegloop
met ‘n glimlag kan verduur
(dis net ek en tarentale
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke somer na die koms
van jou voetval sal verlang)
dis oukei as jy wil weggaan
op ‘n koue dag in Mei
ek kan ‘n traan aan die aalwyn
– wat oranje blom – bely
en aan die wolke en die wit maan
aan my tafel en my stoel;
ek weet die doringdraad en straatlig
sal verstaan hoedat ek voel
(dis net ek en pelikane
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke najaar na die koms
van jou voetval sal verlang)
en dis oukei as jy wil groet
terwyl die aronskelke blom
kyk, die swaeltjies vlieg ook weg
voor die koue maande kom
hadedas en kolganse
vlug maar altyd hier verby –
so, dis oukei as jy wil weggaan
op ‘n bibber dag na Mei
(want dis net ek en ‘n blouvalk
en dalk nog Simonsberg se hang
wat elke winter na die koms
van jou voetval sal verlang)
© Carma Shaw
14 Mei 2018
16:17
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.