Jongste aktiwiteit:

Fielies Fisant – Die Skerpskut

In 1963 beland ek in die weermag. Dit was in die dae toe ons jong manne se ma’s geen keuse gehad het as om hulle seuns aan die genade van die regering uit te lewer nie.

By die aankoms van die kamp waar jy moes aanmeld, was die eerste ding wat gebeur, jou hare word afgeskeer. Dit was nie lekker nie, want dit was in die tyd van die Beatles en die “duck tails. Ek het my hare soos die Beatles s’n gedra. En trots op die haardos wat pa en ma verafsku het.

Jy het jou hare lank laat groei – dan het jy ‘n pee-pot onderstebo op jou kop gesit, en met ‘n skêr al in die rondte gesny, tot dit gelyk het soos n rondawel se dak. Maar die army barber het natuurlik net een styl geken, en dit was poenskop. Blybaar om kopluise ens. te voorkom.

Daarna is ons uitgereik met uniform, sport klere, kouse en natuurlik, die immer gewilde stewels. Vir hulle het dit nie saak gemaak of die goed pas of nie, ons moes maar onder mekaar uitruil tot jy hét wat pas, of wat naastenby voel of dit pas. Ons is ook met n helmet uitgereik wat ons sommer n staaldak genoem het, asook ‘n waterbottel, en ‘n klein pik en graaf waarmee ons loopgrawe moes grou, (en ander gate, sou die natuur op jou gil, terwyl jy jouself op een of ander bos-ekspedisie, in die hartjie van nêrens bevind.

Die belangrikste val alles, was jou geweer.
In daardie tyd was dit nog die ou drie nul drie.

Tesame met die strawwe oefening wat ons daagliks moes deurmaak, het die skiet oefeninge ook begin. Infantrie was baie streng en harde opleiding, maar ek het die geskietery op die skietbaan vreeslik geniet.  Sien, ek het op ‘n plaas groot geword en my oorle’ pa het my van jongs af leer skiet. Hy was ‘n baie goeie skut – en dit het my dus ‘n groot voorsprong bo die stadsjapies gegee.

Ek was opgeroep vir nege maande, maar reeds na die derde maand van opleiding skiet ek toe so akuraat, dat ek ‘n sertifikaat as skerpskutter verwerf. My Korporaal was baie trots op my. Ons was ses pelotons in die kamp en elke peloton het sy eie korporaal gehad.  Ons hoor toe dat daar in een van die ander pelotons ook iemand gekwalifiseer het as skerpskutter. Onmiddelik reël my Korporaal en sy Korporaal ‘n kompetiesie tussen my en die ander skerpskut. ʼn “Shoot-off” het hulle dit genoem.

Die kompetiesie het op die skietbaan begin. Die reëls was eenvoudig en daar was vier posisies waaraan ons gemeet was:

Op vierhonderd meter lê ons plat op ons pense en skiet, staan dan op en hardloop twintig meter.
Dan val ons tot op ons kniëe, skiet, staan op en hardloop twintig meter.
Daarnaa gaan sit jy plat op jou alie, skiet, staan op, en hardloop weer twintig meter.
Laastens moes ons op ons koppe staan en skiet…

Beide van ons was so briljant dat ons daarin geslaag het om in al vier posisies kolskote te skiet. En so loop ons kop aan kop.

Terwyl die twee korporaaltjies nog so loop en bespiegel oor hoe hulle die kompetiesie op n reverdige manier tot n einde kan bring, vlieg daar so drie honderd meter van ons af, twee pampoen torre verby. My oponent trek toe los en skiet die een tor dat die sop so spat. Ek laat waai en skiet die andereen raak, maar ek kwes hom net en hy vlieg weg.
Nou loop die oponent met ‘n halwe punt voor.

So vyf honderd meter van ons af is ‘n hengse groot skrootwerf. Dit is daar waar die ou Army voertuie tot ruste gelê word om hulle laaste jare uit te dien . Onder andere staan daar ook ‘n ou Spitfire met sy stert na ons kant toe gedraai. Díé dien blykbaar vandag sy laatse dae in Britanje uit, omdat die Suid Afrikaanse weermag geld vir amuniesie nodig gehad het…
Op vyfhonder meter skiet my oponent die Spitfire se regter, en ek die linker tru-spieël, mors af en hy loop dus steeds met n halwe punt voor.

Skielik raak ek keelvol vir die kompetiesie gedoente en dink so by myself – sy mal aunt Tillie se nickle-plated-six-pack-woer-woer, hy gaan my nie wen nie.

Ek vra toe dat ons almal na die Uniegegou in Pretoria gaan vir die grand-finale.
Daar aan gekom klim almal op die Uniegebou se dak, opsoek na n teiken, elkeen toegerus met n hengse teleskoop.

As jy Pretoria en omgewing ken, sal jy weet dat Hartebeespoortdam, ongeveer so sestig kilometer van Pretoria, en spesifiek die Uniegebou af lê.  Ek wys toe vir die manne deur die teleskoop dat ‘n tortelduif besig is om oor Hartebeespoort dam te vlieg.

Ek lê aan, mik, hou my asem op, trek die sneller en skiet.
Ek skiet ‘n vlooi bo van daardie tortelduif se kop af, sonder om een enkele veer deurmekaar te krap! En net daar wen ek toe die kompetiesie loshande.
My oponent het nie kans gesien om so vér te skiet nie, want hy was half-blind in die een oog en die ander een was skeel.

Ek wen toe ‘n pragtige trofee, n medalje en beland pens en pote in die Pretoria nuus.
Ongelukig kan ek dit vir niemand wys nie, want alle bewyse van my groot prestasie as skerpskut, het n paar jaar gelede saam met my huis afgebrand, en die ooggetuies wat teenwoordig was, het almal die land verlaat, as gevolg van onluste in die tagtigs.

Al wat ek vandag daarvan oor het, is my woord…




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed