Ftisis
My Bosveldland groei uintjies blaargekrul
in leeuspore lank reeds toegewaai
en tussen opslaangras en vloeispaatrif
rank wurgend sandappels in son se braai.
My Bosveldland verskraal as winters kom,
maar dan dos bergalwyn in karmosyn
en blare roes tot gespikkelde vaal
en die Suidwind verkluim die son se skyn.
My Bosveldland sweet as die Somers brand
en dagheet laat draal in ‘n windstilnag
wanneer kikkers en kriekies aaneen bly smeek
vir die reën se lied en ‘n koeler dag.
O my Bosveldland, ek verlang al meer
-waar ek slawend ondergronds moet swoeg-
na jou Winters, Somers en donderweer
as die teringhoesie my bloed laat spoeg…
6 Kommentare
-
-
neels
n Meesterstuk fantasties
-
Arnold
Jou slot staan vir my uit. Te laat besef 'n mens dat die gejaag na kunsmatige rykdom tog nie die moeite werd was nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
wow.. jy skryf my Bosveldhart sommer warm... puik!!!