Grace
ek wil soos jy wees Grace
in hierdie liefdelose wêreld
droog soos ‘n woestyn
was jou omgee soos ‘n oase
ja soos ‘n reënboog-blommetuin
as ons net soos jy was Grace
sou niemand ooit gestry het nie
sou die son vir almal skyn
en het elkeen sy plek gehad
in ‘n eenvoud-samesyn
ek wil my liefhê laat lyk soos joune Grace
soos jou bruin oë my bewonder het
asof jy my aanbid
met jou kop hier teen my knieë
waar jy styf hier teen my sit
ek wil soos jy met aandag ag
asof daar net een les is Grace
soos jy verby my swakheid sien
wil ek die mense in my lewe
met ‘n gee-rivier bedien
ek wil minder wees soos jy Grace
ek wil jou omdraaigawe hê
jou wegwys van belang
ek wil soos jy tevrede wees
sonder drifte en ‘n drang
ek wil soos jy kan liefhê Grace
onverskrokke onverpoosd
met groot geduld wil ek ook wag
soos jy by die rooi hek
met daardie omgee in jou lag
ek wou jou nie nou mis nie Grace
ek wou nog met jou praat
en jou lyf hier teen my hou
ek wou jou nog “my Gracie” noem
en my arms om jou vou
jy was vir my gestuur my Grace
jy met die seëning in jou naam
jy het my lewe kom verlig
deur hierdie swart kol in my hart
skryf ek swaar aan dié gedig
ek sal jou nie vergeet nie Grace jy was meer as net my hond
ek weet jy’s in jou hemel
en jy wag daar by die hek
met jou swart stert waaiend
en ‘n blylag op jou bek
Andries Fourie
(Seirdna)
09.09.2024
3 Kommentare
-
-
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Pragtige dog hartseer ode aan Grace. Ek moes alte dikwels ook afskeid neem van so 'n boesemvriend!