Guppy, my hart se swart punt
Teen hierdie tyd is Guppy al nege hond-jare oud en, net soos haar Miesies, raak die grys al hoe duideliker sigbaar. Sy staan groot en 46 kg swaar in haar ongebleikte swart sokkies.
A.g.v. inteling en ’n ras wat geneig is tot heup probleme, is sy met ’n ernstige vorm van “Hip Dysplasia” (’n genetiese toestand waarin die bal van die heup nie behoorlik in die heup-sok pas nie), gebore. Sou jy nie kennis dra dat hierdie Labrador/German Shephard Dog in werklikheid net een bestaande heupbeen het nie, sal mens dit nooit raai nie. Sy hardloop soos enige ander, maar mag onder geen omstandighede spring nie. Swem, ja!
Ongelukkig kon ek in al die jare nog nie ’n liefde by haar kweek teenoor die veearts wat op 6 maande gesê het dat “sy liewers uitgesit moet word want sy gaan ons nog baie probleme veroorsaak” nie. Sy was toe wel die grootste deel van haar lewe een beneukte brak wat gehap het na almal wat aan haar wou vryf. Vertroue word verdien en nie verniet uitgedeel nie. Aanhouer wen en Ano het haar met al haar buie, oorwin!
Die kuiergaste in die laaste dekade het aansienlik gedaal weens die feit dat sy al ’n menige vriendin aan die arm gegryp het. Ongelukkig kan ek nie téén haar kant kies nie, want indien ’n persoon duidelik en reguit in verstaanbare Afrikaans gevra word om haar te laat begaan en nie te vry of te vryf nie en die persoon doen dit steeds, dan sal ek my hande al grinnikende in onskuld was! Dit was nie asof die persoon nie gewaarsku was nie. Daardie twee oortjies aan die kante van hul koppe is seker maar vir versiering?
Cesar Millan se wyse woorde is: “You don’t get the dog you want, you get the dog you need.”
Hierdie afgelope dekade was werklik ’n leerskool soos nog nooit vantevore nie! Vroeg reeds moes ek inderhaas leer hoe om Woef te praat. Ongelukkig word dit nie in geskrewe taal aangebied nie en moes ek leer hoe om my intuïsie meer as net 100% te vertrou. Soms kommunikeer ons steeds by mekaar verby, maar sy het ’n manier om haar behoeftes uiteindelik baie duidelik te maak.
Sy is ’n formidabele muisvanger! (En alles wat klein is en vinnig beweeg, soos klein hondjies/kinders, en so aan…)
As daar slegs een ding is waarvan ek seker kon wees, is dit dat sy na hierdie familie gestuur is sodat ons kon skaterlag sowel as leer dat diere toe nie sommer-maar-net diere is nie en dat hulle inderdaad ook wesens met emosies is en dat hulle ook daarvan hou om onder alle omstandighede gerespekteer te word.
Groete van my-na-jou,
Ano
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Ons het ook so 'n moeilike brakkie, Ano. Maar al is ons soms raadop, verruil ons hom vir niks in die wêreld nie. Ek het lekker gelees oor jou hart se punt :-)