Jongste aktiwiteit:

Heilige Nag

Geen klokke beier
in die stille nag,
geen herders in die ope velde
hou meer oor die kuddes wag.

Geen stal met strooi
of os of esel meer,
as Hy vanaand sou kom,
waar sal Hy rus, my Heer?

Die liggies vrolik flikker
in die straatjies nou en klein,
sou ons nog opkyk,
sou ons ook die ster sien skyn?

As konings uit die verte kom,
waar sou hul jou en my hier vind?
In brassery of kuier,
of in aanbidding voor die kind?

Is jy ook moedeloos maar
glimlag weg die dieper seer?
Vergeet jy somtyds die
teenwoordigheid van onse Heer?

Lê jy ook eensaam, enkel,
treurend in jou winterbed?
Het jy vergeet Hy lewe
na sy dood, om jou en my te red?

O Heer, ons kom na U
om elke dag soveel van U te vra,
vergeet so gou ons sondes wat U sonder
skroom of aarsel aan die kruis vir ons sou dra.

In Bethlehem ‘n Kind gebore
om te lewe, sterwe, op te staan,
sodat ons, dooie beend’re, eendag
vreesloos, vlekloos, voor U troon mag staan.

Laat nou ons danklied
opstyg tot U oor,
laat U ons loflied saam
met die van eng’le hoor!

© Anton Bosch 25/12/2012




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed