Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Help my!

Deur Marlene Erasmus
Datum gepubliseer: 11 Maart 2021 Aantal woorde: 1419 501 Kere gelees 5

Help my!

Lilly staan voor die houthut, kruis haar arms en vryf koulik oor haar bo-arms. Sy voel baie onrustig oor die erge sneeustorm wat aan die broei is. Sy besluit om eerder terug te keer na die houthut waar sy al vir die afgelope vyf jaar woon. Nie eers die hitte van die vuur in die kaggel kan die gevoel van koue in haar binneste laat bedaar nie.

Die waarskuwings is deurgegee dat almal paraat moet wees oor die moontlikheid van ʼn storm, maar die verwagting was nie dat dit so ʼn erge storm gaan wees nie.

Sy wonder wanneer gaan Henk terugkom. Hy kom altyd terug voor die donker deur die Silwerden en Lorkebome naderkruip.

Lilly se gedagtes gaan terug na daardie aand vyf jaar gelede. Sy het saam haar ouers op ʼn ski-vakansie gekom en dit was die hoogtepunt van haar vyftien-jarige bestaan. ʼn Glimlag wil-wil aan haar mondhoeke pluk as sy dink hoe sy en haar tweeling broer mekaar met sneeu gegooi het in ʼn sneeu-geveg.

Die vrolike gelag klink helder in haar gedagtes met hulle gesin se sneeuman-bouery.

“Lilly, waar is jy?”, ruk Henk se growwe stem haar terug na die hede.

“Kan hy nie maar net langer wegbly, of glad nie terugkom nie”, wens sy stilweg in haarself.

“Hier, ek sit by die kombuistafel”, antwoord sy.

Sy onthou die groot hout gebou waarin haar gesin tuisgegaan het voor die ‘ongeluk’. Die klein hotel was nooit werklik baie besig nie, die mense het gekla dat dit te afgesonderd en primitief was. Sy ril liggies as sy terugdink aan die aand wat haar ouers gaan uit-eet het en vir haar en Johan alleen gelos het by die opsigter.

“Julle is mos nou al mooi groot, moet nie te laat in die bed kom nie. Ek en pappa sal nie laat terugkeer nie”, was die laaste woorde wat sy haar ma hoor sê het.

Sy en Johan het nog lekker gesit en gesels toe hulle in donkerte gehul is. Daardie aand was daar ook so ʼn hewige storm aan die broei en Johan het besluit om te gaan inkruip.

“Ek gaan vir mamma en pappa wag tot hulle terugkom, ek is nog glad nie vaak nie. Lekker slaap, sien jou môre boeta.”

Die gang is so half donker, dit is net die lampies teen die mure wat dansende skaduwees teen die mure gooi.

Lilly voel kriewelrig toe sy ʼn aaklige kraakgeluid hoor. Die skarniere kort beslis bietjie olie. Sy voel werklik onrustig en die onheilspellende gevoel wil haar net nie verlaat.

Sy hoor weer die kraakgeluid en swaai om om ondersoek in te stel toe sy vaskyk in die donker oë van die opsigter, Henk wat agter haar staan.

Sy wil nog protesteer toe Henk ʼn sakdoek met ʼn baie skerp reuk voor haar neus hou. Die laaste wat sy onthou is die bose lag wat uit Henk se bors ontsnap.

“Waar is ek? Wat maak ek in hierdie donker, muwwe kamer?”, maal die vrae deur haar.

Haar tenger liggaampie ruk as sy in Henk se twee swart oë vaskyk. Sy spring op en hardloop histeries tot by die trappe maar sien dat die valdeur aan die bokant van haar kop met ʼn groot slot gesluit is. Henk sit en kyk haar stil aan.

“Jy kan maar rustig raak, Lilly.”

“Jou ouers en broer is op pad terug met die polisie na die naaste dorp. Die soektog na jou is afgelas nadat hulle jou bebloede klere tussen die bome gevind het. Teen die tyd is hulle waarskynlik besig om jou gedenkdiens te reël”

Die hoofopskrif in al die koerante: “Tragiese voorval: Vyftien-jarige meisie aangeval en verskeur deur ysbere”.

Lilly se asemhaling verstil terwyl trane hartseer oor haar wange rol.
“Hoekom, hoekom doen jy dit aan my? Henk, sê my net, hoekom ek?”

“Wel jou ma-hulle sal dit kan verwerk, hulle het immers nog vir Johan oor.”

Henk se geïrriteerde stem ruk haar terug na die werklikheid. Hy gooi baie ongeduldig nog houtstompe op die vuur voor hy neersak op die ou houtstoel voor die kaggel.

Lilly pers haar lippe opmekaar en bal haar vuiste waar sy na hom staan en kyk. ʼn Sadistiese glimlag versprei oor Henk se gesig as hy na haar kyk.

“Waarvoor wag jy? Kom trek uit my stewels en bring vir my kos!”, beveel hy haar.

Soos sy na die koolstoof loop, hoor sy Henk se aaklige harde asemhaling agter haar.

Lilly bewe innerlik van woede en magteloosheid as sy Henk se stomende bord bredie voor hom neersit. Vir vyf jaar sorg sy vir kos, elke dag. Sy maak skoon en was sy klere, nie asof sy enigsins ʼn keuse het nie!

“Vandag het die mense begin om opmetings te doen vir die nuwe vakansie-oord hier onder die digte Denne-woud.”

Lilly luister met nuwe belangstelling. Dit beteken dat sy dalk binnekort gevind kan word! Haar hart klop vinniger as sy net aan die moontlikheid dink om uit hierdie tronk te ontsnap.

Henk gooi die blikbord met ʼn knal voor haar neer, sy skrik dat sy behoorlik nugter wakker voel.

“Jy ogies glinster verniet! Jy moenie dat ek jou buite hierdie opstal vang nie! Jy sal dit berou.”, bulder hy voor hy opstaan om die deure en luike te sluit.

Die sleutel kraak in die slot en die ou plankvloere kerm en kreun onder Henk se voete as hy in die gang afloop na sy kamer.

Lilly sug weemoedig as sy luister na die storm wat buite woed.

Sy onthou daardie aand so goed, die aand wat haar lewe onherroeplik verander het. Sy klim in die bed en trek die vere-kombers tot onder haar ken. Sy sluit haar oë en bid vir die hoeveelste keer dat iemand haar net kan vind hier waar sy as Henk se gevangene aangehou word. Voor sy in ʼn diep slaap verval, droom sy.

Sy staan en hang wasgoed op in die flou sonnetjie. ʼn Skaduwee val oor Lilly en sy deins verskrik terug.

“Môre dametjie, ag jammer dat ek jou nou so laat skrik. Glo my dit was nie my bedoeling nie.”, sy kyk op in die oë van die jongman met ʼn veiligheidshoed op sy kop.

“Ekskuus dat ek so onverwags op jou afgekom het, ek het gaan stap en wou net omdraai toe ek die rook hier sien draai.”

Lilly wonder benoud hoe ver Henk van die huis af is, toe die jongman homself aan haar voorstel.

“Ek is Nic, die projekbestuurder wat die nuwe ski-oord hier onder aan die voet van die berg bou.”

“En jy is?”

“Ek … ek, ek is Lilly”, stamel sy die woorde uit.

Henk se slof-slof voetstappe ruk Lilly uit haar droom uit wakker. Die trane loop oor haar wange as sy besef dat dit net ʼn droom was en dat sy moet opstaan om vir Henk ontbyt te gaan maak.

Die geur van wors en eiers hang in die kombuis toe Henk by die deur uitstap om te gaan hout soek.

Lilly ruim die kombuis op en stap met die balie wasgoed na buite. Die sonnetjie skyn heerlik op haar vel en sy neurie saggies.

In die verte hoor sy die geraas en gedreun van die masjinerie waar die konstruksie begin het. Sy staan doodstil en stuur ʼn skietgebedjie op dat haar drome tog mag waar word.

Sy draai om om in die huis in te gaan toe sy eensklaps die takke hoor kraak. Sy sien hoe ʼn figuur deur die bome aangestap kom.

“Hallo, ek is Nic, die projekbestuurder wat die nuwe ski-oord hier onder aan die voet van die berg bou.”

Lilly voel of sy in haar droom leef. Sy gee ʼn treetjie nader aan die vreemdeling en voel duiselig as sy besef dat sy nie droom nie. Voor haar staan ʼn man met die mooiste blou oë en vriendelike gesig.

Dit is die eerste mens wat sy in vyf jaar van aangesig tot aangesig sien. Hy stap effens nader aan haar en kyk haar besorg aan.

“Ek is jammer, ek het nie bedoel om jou die skrik op die lyf te jaag nie.”

Lilly voel hoe die bloed terugvloei na haar wange as sy Nic vasgryp.

Sy probeer om so gou as moontlik vir hom te vertel wie sy is. Sy babbel onsamehangend en Nic maan haar om kalm te word.

“Onthou jy die koerantartikels en nuusberigte van vyf jaar gelede?”
“Tragiese voorval: Vyftien-jarige meisie aangeval en verskeur deur ysbere”.

“Ja, ek kan so iets vaagweg onthou,”

“Wat het dit met jou te doen?” vra Nic verward.

“Daardie meisie, is EK!”, huil Lilly verlig as sy Nic smeek:

“Help my!”

©Marlene Erasmus
10/03/2021
(1439 woorde)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    12 Maart 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2021 – OOP-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 93
Kommentaar telling: 5

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 364 gaste aanlyn

Bydraes – Argief