HERFS
Die seisoen se deurwagter
tel die tolgeld
en rol ‘n kwart stukkie nuwe kleed
van die seisoen se materiaalrol af
vir Herfs wat bakhand staan en wag
Gekleed glip die Herfsbruid
uit die omhelsing van haar Somersminaar
al dansende eensaam in die hitte van middagson
terwyl haar wilde tango
visioene in-ets teen my kamermuur
Opgeharkte goudgeel molshoop blare
lê soos droskinders van die Somer in my agterplaas
soekende na ‘n moedersboesem
tussen die lewe se strengelgras
Verlig ‘n smeulende lamp die oggend se verhoog
strooi ‘n onsigbare hand
bruin-vaal korrels uit die natuur se speserypot
soos lappieskomberse oor naamlose velde uit
…en al wat oorbly is die stil geraamtes wat bly loer
half menslik stil beweeg onder die Herfskleed
terwyl die koue windjie saggies daaroor streel
en die Somer se afskeid
verborge in die krakies van ‘n boombas lê
3 Kommentare
-
neels
Mooi gepen
-
Kiekies
So pragtig: lê soos droskinders van die Somer in my agterplaas
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Dis baie mooi. Goed gedoen :-)