
Hierdie vrou van Afrika
Waar was ek
toe die wêreld nog stikdonker was,
lank voor die eerste lig verskyning;
toe U twee klippe kap tot vonk –
waar was die kruitvat,
waar die lont?
Hoe vurig die geboorte van die son.
Was ek daar
toe U die sterre deur die heelal string
en die maan poleer tot edeltin,
toe U haar lyf vol kraters kerf,
haar loslaat
om (tot in alle ewigheid)
deur die hemelruim te swerf?
Het ek aanskou
hoe U die droë grond
van die waters skei;
hoe het U dit reggekry
om die grense vas te stel
waar branders in die sand wegsink
en met watter beker
het U die mere vol geskink?
Waar was ek
toe U die berge en die dale
met U hande vorm;
toe die eerste waters oor die Drakensberg
se kranse val
en aan die groot rivier geboorte gee;
toe U haar laat kronkel
oor die dorre aarde
en haar laat uitmond in die see?
Was ek neffens U
toe U die eerste blom laat bloei,
die eerste Kremetart laat groei
en die vrugte aan haar takke hang;
toe U die biesies langs die stroompie plant,
was ek daar –
aan U linker- of U regterkant?
Waar was ek
toe die eerste arend na benede daal
en ‘n geelvis uit die water haal;
toe ‘n springbok vir die eerste keer
so witgat-kromrug pronk;
was dit oor Karoo se bos
of oor Kgalagadi roesrooi grond?
En toe U na die werke van U hande kyk;
gesê het “dit is goed”
was ek aanwesig, Here –
dalk net die weet van U gemoed?
Het U oor die Vrystaatvlak gestaar;
was ek al dáár
toe die naguiltjie se weëmoedslied refrein;
was ek die groot gedagte,
het U aan my gedink,
was ek in die sagte lig
wat in U skeppersoë
reeds blink?
*
Waar was ek
wyl U vir Adam in die wieg neerlê;
het U lippe
(in ‘n preweling)
toe ook hiérdie vrou van Afrika
se naam gesê?
© Carma Shaw
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 - Digkuns projek