Hoop is ‘n lentevoël
As jy ooit drie-uur in die môre wakker lê
(soos jou ma)
onthou, my kind
onthou
dis net ‘n uur of twee voor die voëls weer sing
net ‘n uur of drie
voor die son haar eerste strale bring
en jou nag in dag omtower.
Ek hoop jy wéét . . .
daar sal altyd duiwe in die bome wees
tortelduiwe
wat lustig koer
en mossies op die grasperk
wat sommer net rumoer.
Die suikerbek sal nektar drink
uit die kanferfoelie tuit
die geelvink sal ‘n nessie bou
die rooivlerkspreeu sal fluit.
Muisvoëls sal pers blomme vreet.
Moet dit nooit vergeet.
Die kiewiet sal haar kinders
met waagmoed bly beskerm.
Die arend sal haar kuiken vlerke gee.
En al woed die storms ookal hóé
die albatros vind rigting oor die see.
En ék,
ek wens vir jou ‘n lentevoël
langs al die paaie waar jy loop
en al is die nag soms donker
‘n oneindigheid
. . . aan hoop
C. Shaw
22 Oktober 2015
9 Kommentare
-
Inkmoderator
Pragtige vers Viooltjie. Ek sal dalk wil sien dat jy 'n lidwoord oorweeg vir jou titel. Hoop is lentevoël... [Hoop is 'n lentevoël?]. Dalk? Wat dink jy? Die vers is waarlik keurig en interessant. Dankie. IM
-
neels
HIERDIE WAS BESLIS EEN VAN JOU BESTES OOIT CARMA
-
Marisa Labuschagne
Hierdie is regtig 'n besondere gedig. EK voel sommer die wakkerle en bekommer in die nag, en die teenstelling van hoop in die dag wat breek, en wat weer en weer na die donker van die nag lig bring.
-
Palet
Baie mooi
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek