IS LIEFDE
Is liefde die water
wat die glas volmaak,
of is liefde die vonk
wat die houtvuur aanblaas?
Is dit vlinders wat fladder
op ‘n jongman se maag,
of die sonstraal se hitte
as die winterkou knaag?
Is liefde die lig
in die jongvrou se hart
wat haar oë verblind
vir die pyn wat daar wag?
Of is liefde die hoeksteen
waar die muur op kan leun
van die saamwees se huisie
wat groei steen vir steen?
Miskien is liefde die ruit
waardeur ligstrale val
maar die vloedwater wegkeer
soos die groot dam se wal?
Maar ek dink tog die liefde
is dit als en nog meer
dis ‘n pantsergewaad
teen die lewe se seer.
Want liefde is ‘n God’s guns
maak ‘n sondaar Sy kind
breek die kettings van sonde
laat ons sweef op Sy wind…
© 28/02/2012 Anton Bosch
3 Kommentare
-

Kiekies
PUIK!!!
-

See-Jay-El
Dit is 'n pragtige stuk werk. Die vraag en wonder oor wat liefde is en die digter se verwoording van liefde in die laaste strofe, laat die luisteraar met 'n volledige beeld. Puik woordgebruik en die vernuftige aanwending van leestekens dra by tot die toonaard.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Hierdie gedig groei so ongelooflik mooi. Dit begin eers met die gedagte oor wat liefde nou eintlik is, 'n verliefheid wat vlinderkielies gee en mens se regdenkendheid verblind, 'n groei wat stukkie vir stukkie plaasvind. Of kan dit dalk 'n ruit wees waardeur die lig skyn, maar wat beskerming gee, maar dan kom die antwoord die liefde is al hierdie goed, maar nog meer dis goddelik en onbaatsugtig. Ek wil graag fokus op 'n paar beelde soos "water wat die glas volmaak." liefde maak 'n leë glas ('n mens) se lewe vol en gee betekenis daaraan. Die water is deursigtig en suiwer en neem die vorm van die houer aan. So ook sal die liefde gestalte en vorm kry soos die ontvangende persoon dit toelaat. "die vonk wat die houtvuur aanblaas." so kontrasterend met die water. Die water les die dors en kan die vonk uitblus. Maar 'n brandende liefde skep 'n knus vesting en skuiling teen die donker en onheil en koue. Maar soos die water reinig en skoonmaak, suiwer die vuur ook onsuiwerhede uit. Dan voltooi dit die pragtige ewigheidliefde in die laaste strofe. Water wat suiwer en sonde afwas en vuur wat heilig en uitsuiwer. Liefde is ook 'n hoeksteen wat 'n muur dra, met ander woorde dit ondersteun en dra en weer sluit dit aan by die laaste strofe :"laat ons sweef op die wind..." God se onbaatsugtige liefde dra ons soos die wind ons laat sweef bo ons omstandighede "Miskien is dit 'n ruit waardeur ligstrale val" Deur die ruit word lig van buite en binne inelaat. Dit is soos lig wat in 'n donker vertrek inskyn en alles ontbloot wat binne is. So skyn God se lig ook deur die filter van liefde in jou lewe en bring die sonde in die oopte. Maar nou kan ook daardie nuutheid in gees na buite uitstraal, Liefde is ook 'n beskerming teen al die buitekant se seer. Tog liefde kom alleenlik tot sy reg in God se onvoorwaardelike liefde. Dis suiwer liefde. Dis 'n pragstuk wat mens weereens laat peins oor die mooiheid en volheid van liefde.