
Kersnag in die Karoo
Heel die hemel kyk neer
oor vaal bossies en klip
na ‘n stal en ‘n windpomp
naas ‘n kraal en ‘n krip.
Al die melkweg se sterre
skitter helder daarbo –
oor ‘n stofpad wat kronkel
deur die dorre Karoo.
En elke naguiltjie roep
sodra die son ophou skyn
en laat gesange vol hoop
deur die droë land refrein.
Daar waar nagte nog stil raak
– asof oor heilige grond –
leef elke mens en elk dier
met die Heer in verbond
en word vrede op aarde
net ‘n werf met ‘n dam
en ‘n volmaan wat blink
bo ‘n ooi – langs haar lam.
©Carma Shaw
11 Desember 2017
3 Kommentare
-
Estelle
Lieflik Carma!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2017 – Kersfeesvieringe projek