Jongste aktiwiteit:

Kinderilla

Onbepland die wêreld in
reeds verstoot by eerste lig:
lelike grys eendjie.
jou eerste enetjie.
So word Kinderilla groot

bewe haar onderlippie,
as sy smekend vra:
“Moenie loop, seblief, Pappie.”
Druppeltraan oor haar wang,
klink haar kleuterlied elke aand.

Kinderilla se mammie en pappie en familie
skaterlag en kuier saam;
Neefs en niggies jaag en terg,
maar in die wegkruipernag
het ‘n neef haar onskuld afgeslag!

Haar stilbly-skaamkry pyn
skree in haar brein,
sny die kanker in die senulyn!
Poppielyf word halwelyf.
Ysterwil sal Kinderilla dryf

Kinderilla is nou agt,
sy onthou die krag,
die drankwalms van die man
en haar kwaad spartel,
die loskom en die vlug.

Halflyf loop Kinderilla
deur grootword tyd;
Kort-kort skeur die vlies;
dieper en dieper kruip sy weg,
Kinderilla met die splinter hart

droom van mooi, aanvaarding,
vergifnis vir haar swak wees,
versterking van haar gees.
Maar moederseun se woord is eer,
met ‘n klap word seer toegesmeer.

Kinderilla het jy jou ridder herken?
Is dit hy wat jou skop?
Daar was ‘n lem, ‘n vuis,
bloed en nag se vlug.
Kinderilla, jou geskende gesig!

Tussen stukke, brokke en skerwe,
krap Kinderilla soekend;
vind net walms, walging en wroeging;
feilbare ridders
vertrap die splinters van haar hart.

Kyk na die sterre, Kinderilla
in jou is ‘n Lig;
pluk geluk van Hoop
laat liefde ontkiem
in die diepte van jou siel

Jou tyd van blom sal kom,
jou lag sal klok
in jubelsang
op jou lippe
drup ‘n soet belofte.

© CJ Laing – 08/02/2019




1 Kommentaar

  • Woordsmous

    Wat ‘n kragtoer! ‘n Rou gedig sonder fieterjasies, geen opgesmuktheid nie wat net die rou, bitter emosies van ‘n geknakte kind se gees op papier uitstort. Die goue draad wat egter end-uit loop en al helderder word is die innerlike krag van die meisie, wat, ondanks die feit dat die ‘poppielyf’ ‘n ‘halwelyf’ word, steeds vorentoe beur, groei ondanks die pyn wat weer en weer toegedien word. Vertroue wat geskend word deur ridders (op swart perde die keer) totdat die hoop deurbreek in die laaste twee strofes met die opkyk na die sterre en die lig wat in haar skyn deurbreek en sy van die hoop kan pluk en sy weet haar ‘tyd van blom sal kom’, haar ‘lag sal klok in jubelsang’ en op haar ‘lippe drup ‘n soet belofte.’ Skitterend!

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed