Klong (Hoofstuk Ses) ©Eduard Smith
(Twaalf jaar gelede)
Die motor luier by die verkeerslig. Die rooi lig is hipnoties net soos die stilte in die motor, wat soos ‘n barensstomheid hang. Francois se kneukels vorm wit om die stuurwiel terwyl Annemarie nikssiende op haar foonskerm staar.
Francois praat eerste. Sy stem is skor. “Wil jy hê ek moet saam jou met jou ma-hulle praat?”
“Sal jy?” antwoord sy.
“Natuurlik…het jy al vir Dreyer vertel?”
“Nee…ek weet nie wat om te sê nie. Wat sal ek sê as hy my vra wie die pa is? Ek het julle belowe ek sal nooit die waarheid vertel nie. Ek weet Gustav het my verk…seergemaak, maar ek glo hy is baie spyt oor die hele ding. Ek kan nie sy lewe verwoes oor ‘n dronkdom fout nie…”
“Ek verafsku hom…hy mag my neef wees maar ek sal seker maak dat hy jou nooit weer tenakom nie…”
“Moenie so hard wees nie Francois. Hy het nie bedoel…”
“Jy weet natuurlik dat daar ‘n diagnose is vir jou optrede?”
“Wat bedoel jy?”
“Stockholm-sindroom!”
“Moenie mal wees nie…ek het eintlik net soveel skuld aan wat gebeur het as hy. Ek wou saam hom slaap…”
“Wat sê jy? Dat jy eintlik ingestem het en gejok het?”
“Nee…nee, hy het my gedwing en dit het gebeur soos ek vertel het. Hy het wel vroeër die aand gevra of ons kan. Ek het gesê dat dit reg is. Maar, toe hy so kwaad was en my gedwing het, het ek vir hom gesê hy behoort te stop. Ek moes harder geveg het…ek moes…”
“Jy moes niks nie, Annemarie. Jy het nee gesê in daardie oomblik en al het jy vroeër toegestem beteken nie hy is onskuldig nie. Mens doen nie sulke dinge nie. Punt. Klaar.”
“Sal jy saam my gaan…na my ouers toe?”
“Ek het reeds gesê ek sal. Ontspan nou. Ek sal by jou wees…elke oomblik.”
Die motor het deur die verkeer gevleg. Hul albei het stil voor in die pad gestaar. Toe hulle by die oprit indraai wil dit vir Francois voel of hy nie die laaste uur kan onthou nie. Asof hy nie weet hoe hy werklik tot hier gery, en nie eens bewus was van sy omgewing nie. Hy het die motor afgesluit en uitgeklim. Annemarie het nie beweeg nie. Hy het om die motor gestap en die deur vir haar oopgemaak.
Hannetjie het in die voortuin gestaan en aan die roosboom langs die stoep geknip. Sy het opgekyk toe die motordeur slaan. Annemarie, onder Francois se arm het haar eers laat frons wat toe plek maak vir ‘n glimlag.
“Wat ‘n verrassing…ek het julle nie die naweek verwag nie.” Sy het haar arms oopgemaak en vir Annemarie daarin styf teen haar vasgedruk.
“Ma se kind…ek is so bly jy het kom kuier. Dreyer sal darem baie jaloers wees. Kom in. Is julle dors?”
“Hallo Ma…”
“Middag Tannie…iets om te drink sal goed afgaan, dankie.” Francois het Annemarie aan die elmboog teen die trappe op begelei.
“Voel jy olik my kind?” Hannetjie het na hulle gedraai en skeef geglimlag.
“Nee Ma. Ek is net moeg. Wanneer kom Pa huis toe?”
“Hy het nou-nou al gebel en gesê hy is oppad. Hy sal seker nie lank wees nie. Kom sit julle hier op die stoep dan kry ek die drinkgoed. Koeldrank?”
Francois en Annemarie het in stilte hul koppe geknik. Hannetjie het by die deur ingeglip en vinnig weer verskyn met koeldrank op ‘n skinkbord.
“Hoe verloop die eksamens?” vra sy terwyl sy vir elkeen ‘n glas in die hand druk.
“Dit gaan goed Ma…”
“Beter as verwag Tannie.” Francois antwoord sonder om op te kyk.
Die motor wat teen die oprit ingery kom laat almal hulle koppe draai.
“Jou pa is hier.” Hannetjie staan op en stap teen die trappies af. Sy loop tot waar Maarten voor die motorhuis stilhou.
Dit gee vir Francois ‘n geleentheid om met Annemarie te praat. “Wees net kalm. Alles gaan uitwerk. Het jy al gedink of jy die baba wil hou?”
Met ‘n frons antwoord sy. “Ek gaan nie my kind vermoor of weggee nie…hoe kan jy so iets vra?”
Francois sit sy hand op hare en fluister. “Ek’s jammer. Ek wou jou nie opwerk nie. Kalm nou…asseblief”
Maarten en Hannetjie sluit by hulle aan.
“Middag kinders. Ons het julle nie die naweek verwag nie. Aangename verrassing.” Maarten het koud geglimlag.
Annemarie het haarself tot op die punt van haar stoel geskuif, haar elmboë op die tafel gerus en gesug. “Ek was gister by die dokter, Pa…Ma…”
“Ek het gedink jy is siek Annemarie. Ek kon dit sien toe jy uit die motor klim. Jy het nie nodig om dinge vir my wag te steek nie…” Hannetjie staan op en sit haar hande op Annemarie se skouers.
“Ek is nie siek nie Ma…ek is ver…verwagtend.”
Hannetjie lig haar hande en stap in stilte tot by haar stoel. Sy sit en kyk in Maarten se rigting. “Gaan jy niks sê nie my man?…ons dogter is swanger…Francois, ek het nie eens geweet dat jy en Annemarie saam is nie…niemand praat mos ooit met my nie…” Sy trek ‘n sakdoek uit haar mou uit en snuit daaraan.
“Dis nie…” Annemarie begin praat maar Hannetjie praat haar dood.
“Weet jy waste skande dit gaan wees as ons vriende en familie hiervan uitvind Annemarie…jou pa is ‘n gerespekteerde dokter…ek wil nie eens dink wat die regter en Magdild hiervan sal sê nie…weet julle hoeveel skade dit sy reputasie kan berokken…het julle daaraan gedink toe julle dinge begin doen het wat vir getroude mense bestem is?…wat gaan ons maak?”
“Kom ons raak net eers kalm, Han.” Maarten vat Annemarie se hand. “Is jy andersins gesond my kind?”
Tranerig antwoord sy. “Ja, dankie Pa.”
“En wat het jy vir jouself te sê Francois? Hoe kon jy dink dit is ‘n goeie idee terwyl julle nog albei swot?” Hannetjie gee nie gehoor aan Maarten se kyk nie. “Dit gaan die grootste skande wees wat hierdie familie ooit getref het. Ek is lus en skud jou binnegoed uit.” Hannetjie se gesig is bloedrooi en sy haal asem asof sy ‘n marathon gehardloop het.
“Dis nie…” Annemarie probeer praat.
“Dis nie wat nie, Annemarie?” Nou wil dit klink of Hannetjie skree.
“Sy probeer sê dis nie nodig om bekommerd te wees nie, Tannie. Ons sal trou en dan sal daar nie skande of skade wees nie.” Francois se oë ontmoet die trane wat teen Annemarie se wange afloop. Maarten kyk vinnig op.
“Dit is dus jou kind…Francois?”
“J…ja Oom.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.