man van die Aldam
man van die Aldam
man van die Aldam heerser was jy
oor die dam en reservaat
jy het vir my elke nuwe dagbreek gewys
al die nuwe name van plant dier het jy my geleer
totaal vreemd van klank die plante bokke en voëls
jy was soms ergerlik en laggend het jy tog herhaal
jy het saam met my deur elke dag gegaan
jy het my die veld heuwels en klowe leer verken
waar koeltes blou onder die bome lê
het jy tot rus gekom
jou drinkwater het jy met my gedeel
man van die Aldam jy het my plek in die natuur opnuut laat ontdek
jy die Adam die ridder in die paradys
jy het tot my redding gekom toe ek boom moes klim vlugtend vir ñ buffelbul
ek hoor nog jou groet soggens vir die dam ñ slapende uitgestrekte vrou
jou respek vir die natuur was ñ openbaring vir my
jy die een om my na trauma weer natuurlesse te leer
jy het my leer kampvuur maak
jy het my nooit gespaar ek moes ook water by die windpomp gaan haal
jou agternakyk soos ek in langgras verdwyn daarvan was ek altyd bewus
ek hoor nog jou lag en terg: “jy het al die wewenaars gestroop”
waneer ek terugkom en klitsgras oral aan my denim kleef
jy was by my waneer aandskemering die dam en ons tente met innige stilte omvou
jou woorde soms niks meer as stilswye
jou eie gedigte het jy om die kampvuur voorgelees
jou mooi stem ñ sagte samespraak
jy het my nuwe wee na woorde laat vind
in Maart vanjaar het ons weer raakgeloop
jou donkerbruin oë steeds ernstig tog blink en sag
jy het my vir n oomblik gevange gehou
ek het gereken die ontmoeting was toevallig
jy het gesê : “nee dis God”
Tia©️
2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.