Motiverende skrywe aan skrywers vir die nuwe jaar.
Daar is iets aan skryf wat die gedagtes losmaak en die tonge laat wapper.
Skryf gee ons die vryheid om dit te sê wat ons soms bang is om te uiter. Dit help ons om ons gedagtes te orden en om nuwe perspektief te kry. Hetsy in ons lewe of tydens ‘n krisis.
Ek dink nou terug aan die dag toe ek begin skryf het. So, in die stilligheid van my kantoor by die huis toe dinge te veel begin raak het. Die telefoon vir die soveelste keer dreigend in ons oor neergesit is met die belofte dat hulle sal terug bel. Toe alles alreeds klaar gevat is en jy wonder wat meer wil hulle nou hê. Toe het ons elke oproep gevrees. Ons skuldeisers het ons bloots gery totdat daar naderhand niks meer oor was nie. Geen eie ek, geen sin en geen rigting nie. Nogsteeds het dit aangehou en het ek ‘n uitkoms gesoek.
Skryf het dit vir my geword. Dit was ‘n natuurlike uitvloeisel waar woorde net begin sin maak het en my gedagtes een vir een rus begin kry het. Dit was in 2010.
Daar het elke storie vorm aangeneem en my weggevoer na ander plekke. Mooi plekke waar liefde, genade en barmhartigheid sin gemaak het. Woorde wat die seer en verwyte gestil het, asook die moedverlorenheid.
My eerste storie het vorm aangeneem in die oomblikke wat daar petrol was vir die kragopwekker. Wanneer die petrol klaar was het die storie verder in my kop gebroei en het ek geleef vir die oomblikke wat ek voort kon gaan. In die stil tye was ‘n notaboek en pen byderhand om die skryfstem te stil. Dit was die enigste rede wat my uit die bed laat kom het, en voort gegaan het. Niks anders het sin gemaak nie.
Ek het nooit beplan om ‘n skrywer te word nie. Ek het nooit gedink ek sal ooit ‘n boek publiseer nie. Al wat ek geweet het was dat dit vrede bring te midde van die chaos waarin my lewe was.
Ongeag van waar jy jou mag bevind op hierdie reistog weet dat jou woorde belangrik is. Of jy soos ek ‘n groentjie is wat als moes leer, woord vir woord om sin te kon maak, en of jy nou ‘n geleerde skrywer is.
Jou woorde het waarde. Jou storie is uniek aan jou.
Al dink jy mense kyk neer op jou, maak jou storie jou uniek in die aflewering daarvan. Jy kan besluit hoe om dit te skryf, hetsy fiksie of as motiverende stuk. Jou woorde se trefkrag is juis daarin dat dit eiesoortig joune is. Geen persoon: geleerde, kenner of beterweterige kan dit weg vat nie.
Die feit dat jy skryf maak jou ‘n wenner. Op daardie skoon bladsy stort jy jou hart uit. Die bladsy verdoem jou nie. Lag jou nie uit nie. Veroordeel jou nie. Hy aanvaar elke letter as jou waarheid.
Leef daardie waarheid. Skryf dit. Want iewers, uit die niet sal jy weer mens word. Sal jy weer die wêreld in die oë kan kyk en jou kop kan oplig. Wie weet wat môre sal bring: ‘n gepubliseerde boek, die wenner van ‘n kompetisie, of dalk is jy die volgende Anjie Krog, Stephan King, C.S Lewis of Dalene Matthee. Niemand sal weet nie tensy jy nie begin nie. Ons almal het iewers begin.
Daarom skryf. Al val jy uit ‘n kompetisie. Probeer weer. Leer. Skryf en lees. Want môre is jy dalk die een wat almal wens hulle kan wees juis omdat jy nie opgehou het om jou waarheid te skryf nie.
©LynelleClark
4 Kommentare
-
Amanda
Soveel waarheid hierin. Skryf, skryf en skryf. Vir jouself en jou mense rondom jou! Skryf om kop skoon te maak en jou jakkalse uit die wingerd te verdryf. Skryf is die besem wat jou siel skoonvee
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Dit is baie inspirerend, dankie Lynelle vir hierdie openhartige leesstuk. Mag ons elkeen elke dag ons hart op papier utstort en ons drome uitleef