My seisoene se laslappieskombers
Laslappieskombers
ek stap deur die oop deur
en gaan lê op my liefdeslaslappieskombers
nooi jou uit om saam die vier seisoene
van my lewe te vind …
kom lê op my liefdeslaslappieskombers kleurvol geborduur
deur die vier seisoene van elke jaar wat hang aan die hemelmuur
en pluk die somer blommetjies pienk en wit
herfs se bruin, oranje en geel tapyt waarop ons sit
kry koud in die winter met sy gras vaal en kaal
en is opgewek met lente se bloeisels wat afval
so op my liefdeslaslappieskombers droom ek van lente –
satynfyn is die begin van my nuwe lewe
gras wat ontwaak en bloeisels in my tuin pienk en wit
en ‘n geboorte van ‘n baba waarna ouers strewe
tyd van groei, lag so sorgeloos, pret, een plesierrit
hardloop vol energie op die strand
reënboogkleure waarop ek kommerloos gly
die hele toekoms in my hand
ek in liefde en omgee dartelend gedy
op my liefdeslaslappieskombers se somer –
fluweelsag groei gras en plante in volle glorie
rooi rose, geel angeliere, pienk daisies en orals groen
druk teen my hart my kleine kinderlyfie
ten volle ontkiem, gegroei en seerkry gesoen
gewaag in die lewe, verloor en gewen en vol drome
saans onder die hemelruim kon kyk na die sterreprag
kaalvoet kon hardloop onderdeur skadubome
voluit omhels ek vreugde met jonkwees lag
herfs se liefdeslaslappieskombers se blokkies –
gras en blare verkleur na goud, geel, oranje en bruin
fladder na benede ‘n sagte herfstapyt
op die lewenspad bereik ek die hoogste kruin
word meer rustig en minder laatnag jolyt
stap nou oor die strand en asem die lewe in
vroeer in die bed met boek en stil wees
as rumatiek en einas meer knibbel aan my lyf begin
wereldsheid minder, meer voedsel en dors na die gees
dan kuier ek op my winterliefdeslaslappieskombers-
gras wat rus tussen bome kaal gestroop en krom getrek
miskien spyt oor verspeelde tye en geleentheid
vergeet meer, voete meer slepend en ou wonde lek
van seerkry jare of mooi herinneringe van vergange tyd
eensaam, vergete en alleen in ‘n tehuis met elke verdiende plooi
meer tyd vir God se genade, boeke vat en gesels met God daar Bo
ek ten volle kon hardloop om die wedloop van die lewe te voltooi
met silwerhare en laslappieskombers om lief te kon hê en te glo!
ek staan op, kyk vir oulaas terug
en stap terug deur die oop deur
die onbekende toekoms binne
na die volgende seisoene wat wag
en om die laslappieskombers te voltooi
©Kopiereg Linda du Plessis 2021
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek