My skuld
Sy staan in die driehoek –
viktim, redder, kind –
steeds aan ons gebind –
weer eens ingetrek
by die verskrikking
geensins vir haar boek,
want sy sál weet
wat nou weer hier gebeur,
moet ingelig wees,
selfs kan raad gee,
moet kan sien en moet kan hoor,
moet kan oordeel wie is reg,
wie is skuldig, wie moet weg.
Ek sien ‘n hart wat skeur,
’n wawyd mond wat skree
en ontsettende vrees,
snot en spoeg en trane –
‘n nat en deurmekaar
chaos sonder end.
Dis ‘n prent van wees wees,
verlorenheid en skok,
vir altyd skeef geskend,
vir ewig vasgehok
The Scream, The Scream, The Scream
sal my binne nooit weer los.
Charleine Collins © 3 April 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.