my tabernakel
in deurdrenkte genade
onder die blaredak van my tabernakel
‘n papierbasboom in my tuin
waar peule soos kersversierings hang
aan uitgespreide takke soos ‘n welkomsgroet
word ek vroeg in die oggend in gebed omhels
in my tabernakel in goudstof getooi
kan ek die werke van u hande asem
word ek ‘n silwervlerk hadida in vlug
‘n broodboom wat teen die hemel groei
‘n doudruppel wat in lig versplint
die salie wat bloedrooi oor my voete bloei
die mossie wat krummels vind
die josefskleed wat sy pad tussen doofnetel baan
hier hoor ek hoe die stilte met my praat
kan ek U lof besing
hier kan ek rus vind
word my siel gevoed
is ek God se kaalvoetkind
©Evanthe 2017
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Inkmoderator
Liewe Elroux Ek het by een van jou ander gedigte gepraat oor die varsheid van 'n geestelike aanbieding en hier moet ek jou gelyk gee, jy het dit metafories, sensories en lieflik aards en anders aangebied. So kan 'n digter dieselfde 'liefde vir die Skepper' verwoord in 'n vars en opwindende manier. Die beskrywing van die natuurlike is tasbaar en jou vers is mooi. Skryfgroete IM