‘n Bankie met ‘n uitsig (‘n brief aan Shirley van Engeland)
Beste Shirley
Ek sit vandag weer op ‘n bankie
in die Waterberg se hart
– heel bo – by die uitkykpunt, Lenong.
Die son vlam teen my rug
en oor Kransberg se hang.
Die heuwels en valleie hou nooit op.
Die pad tot hier kronkelvleg
deur varings, boom en gras.
Proteabos staan immervaal
tot onder in die dal.
Die pad is plek-plek steil
en – vir myle – baie smal.
Ek neem duisende foto’s
en hou die witste wolke dop.
Ek bêre al die prentjies
vir ewig in my kop.
Die aasvoëls bly so
draai . . . en draai . . . en draai
al hoër . . . en hoër . . . en hoër
tot hul eindelik in nietigheid verflou.
En Shirley, jy weet
dis net in Afrika
waar die hemel só kan blou.
Hier sou jy ook kon verdwaal
om rotse en oor klip
op soek na veterneusies
en voëltjies
wat tussen gras en bossies wip.
En wonder oor die wonder van dit als –
dat wind so sag kan suis
en so ligvoets
oor die oerlandskap kan wals.
Ek sit vandag op hierdie bankie
wat koud en hard sement
vir die derde, en ook die laaste keer.
Ek neem afskeid van dit alles
maar eintlik óók . . .
van soveel meer.
(Shirley, ek sou ewig hier wou bly
as ek net maar kon.)
Ek stuur weer vir jou foto’s
en groete uit Limpopo se
Waterberge
Marakele
Lenong.
Ns.
Die Kransbergweduwee
se vlerke is nou stil.
Jy kan meer daaroor uitvind
deur haar te google –
as jy wil.
© C. Shaw
14 Julie 2016
6 Kommentare
-
neels
ek dink Shirley sal haar kan inleef in dit wat jy beskryf
-
Anze
Ai Carma, jy beskryf my Bosveld hier in die Waterberge so ongelooflik mooi!!!
-
Kiekies
Ek spring orent, blaas my vuvuzela en stamp my voete in die luidste moontlike applous vir hierdie manjefieke gedig!!!! Ek moet nuwe prys-woorde opmaak, want die wat ek in die woordeboek kan kry is nie goed genoeg vir die prag van jou werk nie!
-
Eduard Smith
Carma, soms twyfel ek of mense gemaak is om te skryf, maar wat jou betref het ek nie ´n sweempie bedenking nie. Hierdie brief aan Shirley klink alte asof dit deur ´n bewese antieke siel geskryf is, en dan lees ek van ´google´ en besef, dat selfs die moderne mooi kan wees. Die vers is buitengewoon beeldryk en sleep die leser deur ´n storievers wat mens met heerlike nasmake van uitnemendheid laat. Baie geluk hiermee. Dit is vir my persoonlik ´n uitstaande bydrae tot die digskat.
-
Koekekranka
Ek dink genoeg is te min gesê oor jou werkie maar minder genoeg oor die wonder van jou hart se klop en polslag van jou vermoë om te tower en te betower. Dankie vir hierdie diep uit die hart gesels. Ek kan jou verseker "(ek) bêre al (jou) prentjies (ook) vir ewig in my kop."!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Palet
Asemrowend mooi...