‘n Breë, breë pad
Daar is ’n breë, breë pad wat om en om die aarde wentel. Mense, die pad is pragtig uitgelê. Dis so netjies. Dis edelgesteentes van alle kleure en groottes; nie altyd die ware jakob nie, maar baie goed verbloem in oorgeblaasde goud en silwer. Die stalletjies langs die pad is net die beste. Daar is allerhande artikels wat aardse vreugde en plesier verskaf. Drank word oral gebrou; van vaaljapie vir die seisoenwerkers tot Johnny Walker wat manhaftig sy kierie rondswaai met alles tussenin, wat ookal elkeen se smaak en teen die pryse wat ieder en elk kan bekostig, of soms nie!
Daar is besigheidsgeleenthede te kus en te keur. Sommige in blink papier, groot gestrik aangebied, maar hol van binne. Ander is keurig versorg met stylvolle pakette op duur papier gedruk. Maar in die fynskrif is die gewaarborgde verliese netjies ingewoord … net die diep leser kan dit herken. Oral word werk aangebied: plaas- of fabriekswerk vir arm mense wat hongerlone betaal word; kinderarbeid vir die hongerstes. Die breë gang van die pad gee tog soveel vryheid vir ryk baronne.
Plek-plek is daar skemerdonker strate met die mooiste bome wat soms geurig blom. Onder hulle vind mens vroue, jonk en mooi. Wel, sommige jonk, ander mooi maar onder swaar grimering wys ouderdom en verbitterdheid hulle dowwe maskers en plooilyne. Eenkant sit dik, vet mans die meisies en dophou, kastig so besorg. Van oral kom belustige mense om aalmoese aan die vroue aan te bied … hulle gewetes te sus met die gedagte dat hulle die arme meisies se inkomste vergroot. Dat hulle ’n perverse genot daaruit put om hulle te beseer, te dwing tot aaklige onbeskryflikhede, is hartverskeurend maar vind geen ingang in dié mense se gewetes nie.
Daarby dwaal mafias rond op loer na kinders om te bedwelm … alles in die naam van mammon. Jakkalse met minder gevoel as hulle viervoetige eweknieë wat soveel mense as wat hul kan, uit die lewe help. Soms krap ’n gedagte oor iemand wat verskeurd en bebloed, in pynlikste beserings lê en roggel, maar sulke gedagtes verskiet gouer as ’n ster in die buitenste ruimte.
Verder op die breë, mooi pad is die mooiste loofryke plante vol haat, afguns en nyd. Planne om mekaar te verwoes is oral te kry: gratis en verniet, gewaarborg om onmin te saai en families en vriendskappe op te frommel. Daarby kom ook vriende, die wonderlikste van alles. Musiek uit die onderwêreld sluit baie goed by hulle aan. Die vryheid om woorde en gedagtes, enige tyd en enige plek, teen ander te besig. Woorde met die aakligste klanke en wense daarin vasgespel. En natuurlik die vreugde om oor vriende met swakker persoonlikhede te heers; aan hulle partytjies te bied … perverse dade uit hulle te dwing … dronkdade aan hulle op te dwing om hulle goed te laat voel. O Here, help!
Kruispaaie is toegemessel om te keer dat iemand dwars afdraai. Soms staan daar ’n wese met ’n boek wat vaagweg bekend lyk, onder die arm. Hulle preek en bid tot vermaak van alle grootbekke wat nie besef skynheiligheid hang in elk geval oor hulle skouers nie.
Maar hier en daar op die pragtige breë pad, skuins onder enkele varingbosse aan die kant, is afdraaipaadjies wat moeilik raakgesien word. Tog lok die sagte ruising van vreugde en vrede soms iemand soontoe en neem hulle die Hande wat hulle daar intrek en lei na ’n ander Paadjie. Dis nie so flambojant nie … dis eintlik eenvoudig en stil. Daar is geen diep, donker musiek nie; geen woorde en dade uit onheilige spelonke aangevuur nie. Nooit sal jy daar vulgêre dronkpartytjies vol perversiteit kan reël nie want daar is niemand wat dit gaan bywoon nie.
Daar is kanne en potte vol rustigheid en genade. Almal is verstom oor die krag om verliese, seer en angs te hanteer want die Paadjie se mense is nie gevrywaar daarteen nie. Baie van hulle kom immers reeds gebroke van die breë pad af hiernatoe.
Maar die einde van hierdie dowwe, vaal stofPad is Heerlikheid. ’n Goue helderheid vol ewige aanbidding van ons Verlosser en Vader wag op elke kind van God. Engele staan gereed om ons te omarm en na Sy Troon te lei.
Die padeinde van die breë pad vol verlorenes is ’n vuur, wyd en warm, waarvandaan niemand ooit weer kan terugkeer nie. Die vrolike klanke vol genot en haat en jaloesie en bitterheid, gaan oor in kermklanke wat ewigdurend weerklink in ’n ruimte waarvan die einde nie bereken kan word nie.
© adéle
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.