Net voordat jy gaan (2)
Jy kyk op jou horlosie,
ek wis dis tyd dat jy moet gaan.
En ek wéét ek praat te veel, my vriend
maar ek wil hê jy moet verstaan;
Viooltjies en laventelbos
was nog altyd mooi vir my
veral vroeg in Oktobermaand
as hul só in kleur en geur gedy.
Die kwikstert broei haar kuikens uit
maar fiskale sal hul vang.
In die somer is daar slange in die gras.
En hoop beskaam in dorre winters –
hiérdie dinge maak my bang.
Soms verstaan ek alles
soms verstaan ek niks
die waarheid skuil alewig
êrens tussenin.
My skanse is maar dun –
dié waarheid moet jy weet.
Daar rus ‘n wêreld se verlang
in die skuinsval van my skouerhang.
Ek het ‘n boom –
een waarin daar muisvoëls
en Kaapse tortelduiwe woon.
Daaronder staan ‘n bankie en ‘n stoel.
As jy ooit daarna sou voel
om weer hierlangs te kom –
my tuin se hek is oop
(jy hoef bloot daar deur te loop).
Maar trap sag, my vriend
ons almal kry tog seer.
En onthou, ek besit geen pêrels nie –
ek lê my ruikers voor jou neer.
Ek wéét ek praat te veel
(ek’t nog ‘n oomblik van jou tyd gesteel)
maar ek hoop dat jy verstaan
net . . .
net voordat jy gaan.
© C. Shaw
17 Oktober 2016
4 Kommentare
-
neels
Carma ek het nie meer sterretjies vir jou nie maar met raap en skraap het ek weer tien goue sterre vir hierdie werk gekry
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober projek
-
FUNNYFACE
Dis n baie mooi gedig,ek hou van jou werk.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
Jy raak 'n mens soms steurend sleurend met jou verlanggedagtes so sielvol uitgepak met woord en gevoel dat mens nie anders kan as om ongeskik langer te vertoef nie...