Jongste aktiwiteit:

Oggendrit – terwyl jy slaap (lentegedig vir Klarissa – 2016)

In Brackenfell se middedorp
– langs die spoorlyn – is ‘n vlei
waar rommel tussen riete rus
en roomwit Aronskelke
aan die modderwal gedy.

Daar lê wolke op die horison
wat van grou na goud skakeer
en die grysheid van die blouberg
wys – hier en daar –
in krans of piek daardeur.

Dis ‘n ver pad tot by Malagas
en die myle sal ons ry
maar lank voor ons by Witsand kom
moet ons eers die plakkerskamp
met sy donker vuur verby.

Hierdie reënweer is ons redding
al is dit bitterkoud en nat –
oral spatsel waterpoele
tussen denneboom en onkruid
wat so pérs oor vlaktes mat.

Teen die hange, in die klowe
vly die sagblink môre-son
en word ‘n dag weer nuut gebore
daar waar bosse, bosse suikerkan
– in geel – teen steiltes blom.

*

Jy word wakker duskant Caledon
en langs koringlande wys ek jou;
hoe lig kan breek tot reënboogkleur,
‘n bloukraanvoël, ‘n ibis . . .
en die hangvlug van ‘n *wou.

* wou – verwys na geelbekwou

© C. Shaw
11 Oktober 2016




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed