Jongste aktiwiteit:

Oosweer

Ek hou van Oosweer! Dit laat die opgewondenheid in my opbruis soos goue borrels in ‘n bierglas. Ek wil spring en speel soos ‘n wildsbok wat reen ruik.
Die Duitsers se pragtige uitdrukking, Ostwindstimmung – oosweer sonder die wind en stof – is vir my so beskrywend van die gevoel wat dit by my opwek. Ek voel die atmosferiese stemming in die droë lug, die akoestiek wat verhoog en die branders wat klink of hulle hier op my voorstoep breek. Dit verhoog my sintuie en ek raak intens gefokus op die natuur. Ek raak bewus van die helder roep van die voëltjies wat meer uitbundig klink as gewoonlik. En ek hoor die verkeer doer ver op die hoofpad wat andersins deur die vog in die lug gedemp word. Dit voel of die plek lewe kry.
Sulke helder windlose dae is pasella geskenke van moeder natuur self. Dis die tye wat ek aangryp en leef en energie opgaar soos eekhorings voor die winter – dis die energie wat my deur die koue wat daarop volg, moet dra.
Wanneer die stofstorms ons kusbewoners tref en die wind warm lug en sand in ons gemoedere waai, wag ek geduldig – of soms minder geduldig afhangende van hoe warm en erg die wind en sand is – op die draai van die wind wat ek weet gaan kom. Gewoonlik na die middag, soms vroeër, soms eers baie later. Eers hoor jy nog die ooswind, dan raak dit stiller en as jy dink die wind waai nog, hoor jy skielik die branders en voel die lawende koel lug van die see af! Die beloning na die storm.
Dan is dit staptyd op die strand. Fotograwe gryp na hulle kameras om die volle glorie van ‘n dramatise rooi sonsondergang vas te vang, miskien vir later se skilder. Eendag as ek meer bedrewe is met die kwas gaan ek my esel op die strand opslaan en my prentjie ook verf, plein air – elke skilder se uiteindelike strewe!
En dan na sononder ‘n helder hemel besaai met duisende sterre soos wat ons kusmense nie dikwels sien nie. En dan onthou ek weer… daai hol kol van afwagting op die krop van my maag waar ek as kind buite in die bed lê en opkyk na die hemel op soek na satelliete en verskietende sterre. En ek onthou hoe my pa my vertel het van die sterre en die maan en werking van die natuur – verduidelikings wat ek vandag nie meer kan onthou nie, maar wat my diep onder die indruk van die grootsheid van die skepping gebring het.
Mens word gevorm deur die milieu waarin jy grootword. Daarom maak die wonders van die natuur steeds ‘n groot induk op my vandag en vind ek berusting en kalmte van gemoed in die veld, die woestyn en al sy fasette.
Maar vir sommiges hou die oosweer geen bekoring in nie en hulle sou dit graag wou vryspring, terwyl ander van ons werklik daarna uitsien, die ongerief van die sand en stof ten spyt.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed