Pappa, rym is immer
Pappa, rym is immer
Die wintersmiddag is ’n blouberg,
’n wit maan wat bo-oor alles hang.
En – in ’n oopte tussen wolke –
’n teeleend, vir momente vasgevang.
Dis ’n aalwyn wat oranje
(herhaal, herhaal die blom in vlam)
vir myle met die teerpad saam
verby drie reiers
en ’n dam.
Hierdie groen seisoen is ’n koue uur.
En in grys minute (net voor vyf)
word die Boland deur olyfboorde
langs naakte wingerdstok omskryf.
*
Pappa, ons winters was ’n storieboek;
koue hande om ’n bakkie warm sop.
En jy, wat slapenstyd gedigte lees.
’t was lank terug
maar rym
hou nimmer op…
© Carma Shaw
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
morne du preez
ek het jou rymskema geniet en in elke strofe verlore geraak