
Seisoene van die lewe (BRONS)
seisoene van die lewe
sagstil uit skynbaar dooie droë dun takkies
kom groen lewe te voorskyn as voorsmaak
jasmynblom omskep dorheid in geur erupsie
as kleure van verandering voëlsang aanhoor
lente verruil haar wintersjas vir kaalarm-dans
somer is vervulling van bloeisel-beloftes
kleurkarnaval as son aarde oopbek soen
lelies en irisse hou konsert in hemelblou
wyl skitterwit wolke aanwals in wasigheid
somer is tot-stilstand-kom van tevrede siel
herfs neurie in verbrande oranje in dun lug
groen weelde wat verbruin in oker en roes
in die progressie van ons menswees mooi
tyd vir vredige rypwording en vervulling
wat uitvloei in vrede en vreeslose vreugde
wanneer winterwarrelwinde wenend waai
en kom nesskop in my binneste kilkoud
troos die wete dat winter nie vir altyd bly
hierdie boom sal sterk geanker staan
gereed vir die nuwe seisoen wat wag …
©Marlene Erasmus
31/01/2021
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2021 – Verwagting/e-projek