Jongste aktiwiteit:

Sending: Bettie Verwey

Sending: Bettie Verwey
geskryf deur Dale Penderis ©

Bond … James Bond. Nee, nie regtig nie, maar min of meer.

Sy naam is Migael. Hy is die oorspronklike Agent 007. Hy deurkruis die aarde en veg dag en nag magte wat ons nie met die blote oog kan sien nie. Soos nou … Sy sending is: Bettie Verwey. Iemand moet haar oë vir haar oopmaak. Daardie iemand is hy. Lank genoeg swoeg sy met ‘die rede vir haar bestaan.’ Van nie weet waar sy hoort en wat haar doel op die aarde is nie. Praat van maklik tou opgooi! Haar deursettingsvermoë op ‘n skaal van een tot tien? Nul, zero, nada!

O ja, ons kan hom ook nie met die blote oog sien nie, tensy hy anders besluit. Hy besluit om liewers nie in lewende lywe aan Bettie te verskyn nie … altans nog nie. Sy sukkel reeds om saans te slaap. Hy sal nooit vergeet hoe Daniël byna al sy kragte verloor het toe hy aan hom verskyn het nie. Laat hy maar eerder vir Bettie in droomland ontmoet.

Bettie bevind haarself op ‘n atletiekveld. Reg rondom die grasvelde is slegs twee bane rooi tartan. Elke baan is gepak met hekkies wat sy moet oorspring, maar sy het ‘n keuse. Die kleur van die hekkies in die eerste baan is spierwit, en die ander baan s’n is pikswart. Bettie het super bioniese oë in haar droom en kan sien dat daar ‘n naam geskryf is op elke hekkie.

Ywer, geloof, deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde en naasteliefde op die wit hekkies. Mislukking, jaloesie, afguns, ongeloof, onkunde, leuens, valse liefde en haat, op die swart hekkies.

Agter haar is ‘n afgrond. Dus kan sy net vorentoe beweeg. Aan die einde van elke baan is ‘n deur. Indien sy kies om die wit hekkies aan te pak, dan word daar 50% van haar liggaamsgewig in ‘n rugsak gepak wat sy moet dra. Sou sy die alternatief kies, dan kan sy hardloop met ‘n sak vol vere. Die arme Bettie se gesig is ‘n toonbeeld van moedeloosheid, maar met haar hele wese weet sy dat sy nie die donker pad wil aandurf nie.

Bettie pak die resies vol bravade aan. Sy sal nié handdoek ingooi nie! Elke keer as sy wil struikel en opgee, help Migael haar net so liggies van agter af. Bloedrooi en hygend van kortasem sien sy uiteindelik: exit!

Okay, dis seker tyd dat Migael homself aan Bettie bekend stel, want sy gaan hom nou nodig kry.

Nes Bettie dink die stryd is verby, bevind sy haar in ‘n kayak met ‘n roeispaan in haar hande. Sy skrik meer vir die stem wat skielik agter haar praat as wat sy skrik vir die kolkende riviermassa.

“Bettie, daar is nie tyd vir bang wees nie. Ek is jou beskermengel. My vriende noem my sommer Mike. Asseblief, daar is nie nou tyd vir vrae vra nie. Jy beter roei, suster! Hou jou oë reg voor jou gefokus, terwyl ek die donker magte beveg. Jy beter mooi saamwerk, want op hierdie stadium is daardie donker gedagtes in jou kop en elke keer wat jy negatief oor jouself dink, dan moet ek hulle beveg. So bly gefokus en moenie vrees nie!”

Mike sien hoe Bettie haar bes probeer om te fokus. Die sweet tap haar af, maar dis nie nét sweet nie. Hy ken darem die verskil tussen sweet en trane. Hy sien hoe sy effens regs van haar kyk. Teen die berghange staan groot geskryf: “Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop.” Kyk, toe roei ons meisiekind!

“Hou vas, Bettie, tyd vir ‘n verandering!”

Bettie verstaan glad nie wat aangaan nie. Net toe sy die roeiery onder die knie het, verander haar roeispaan in ‘n assegaai. En die rivierwater is rooi!

“Wat maak ek met die assegaai?” skree sy benoud.

“Bedaar, Bettie, jy het niemand doodgemaak nie. Inteendeel, jy het sopas een van jou makkers se lewe gered. Die kayak het gekeer dat daardie assegaai nie sy hart tref nie.”

“My makker?” vra Bettie verbaas vir Mike. Die volgende oomblik is dit asof Mike nie bestaan nie en neem sy volle beheer van haar droom.

“Bettie! Wat soek jy tussen die gevaar? Gaan dadelik tent toe, sodat jy daar kan help met die beseerdes!” Dis Karel Landman se bevel. Hy is Andries Pretorius se tweede in bevel.

In die tent werk die vroue eenparig saam. Bettie sien baie deernis en liefde in die toneel voor haar. Agatha, Landman se vrou, beduie vir Bettie om die kookwater van die vuur af te haal en vir haar te bring. Sy help om die wonde van die enkele beseerdes te verbind. Te midde van die omstandighede heers daar ‘n sterk gees van geloof en positiwiteit in die tent.

Toe Bettie weer die ketel buite op die vuur gaan neersit, steek sy in haar spore vas. Sy sien vir Jan Bantjes besig om te skryf.

Bantjes is Andries Pretorius se sekretaris en hy is verantwoordelik vir die inskrywings in Die Journaal. Sy verslae is baie deeglik, aangesien hy elke dag se gebeure notuleer. Bettie sien ‘n trek van tevredenheid op Jan se gesig en stap huiwerig nader. Jan straal ‘n vrede uit wat aansteeklik is, te midde van al die oorlog rondom die kamp. Hy sien haar hunkering om te lees wat in die joernaal geskrywe staan en gee die boek vir haar aan.

Sy is verstom oor sy deeglike werk. Hy skryf ‘n verslag oor elke persoon se bydrae, van die hoofkommandant, laerkommandante, veldkornette, asook die kanonniers.

‘n Knop vorm in haar keel toe sy die volgende inskrywing lees: As God vir ons sal help om die geveg te wen, sal ons en ons nageslag hierdie dag onthou en herdenk en beloof ons om ‘n kerk te bou ter ere van onse God.

Die oorwinningskrete word van ver af gehoor. Die uitgeputte manskappe kom in gelid op hulle perde aangery.

Nadat almal terug is in die laer, roep oom Andries almal bymekaar om die Here te dank. Die oomblik is tasbaar heilig. Trane van dankbaarheid stroom oor almal se wange, terwyl hulle knielend op die grond hande in aanbidding ophef.

Jan se inskrywing lees. 16 Desember 1838: Die Slag van Bloedrivier. Aan God al die eer.

Mike praat saggies by haar oor. “Kom, dis tyd om te gaan.”

Bettie en Mike stap rond by ‘n massiewe groot fees. Dis net stalletjies waar jy kyk. Die lieflike aromas wat in die lug hang, laat haar maag draai van hongerte. Sy sien sommer die nooi in die nartjie en sy ruik haar ouma in kaneel.

Die vroue van verskillende etniese groepe, praat elkeen Afrikaans op hul eie unieke manier. Almal verstaan mekaar en almal lag saam.

By die crafts afdeling verkyk sy haar aan die die kunstige vroutjie van Griekwastad se bordjies teen die muur en op die tafel. Een bordjie lees: ‘Ek willie Jirre vedag hoog ag omlat dit Hy is wat agter elke bos met Hy se goeteit da vir my wag.’ Nog ‘n bordjie lees: ‘Mag die Jirre jouse binneste roer en mag suffel goedgeit jou slat, lat jy eintlik loop en skaamkry oor allie genade.’

Vanuit ‘n groot saal kom die suiwer klanke van Anneli van Rooyen aangesweef:

Ek lewe, gemaak om na liefde te strewe

op vlerke van vriendskap te swewe

sonder vrae oor wat môre mag bring

O’ ek lewe

verstaan weer van droom en van vrede

die vreugde van leef in die hede

dat ek hier is vir ‘n rede

 

Diep aandagtig luister Bettie na die lied se woorde. Soveel vrae in haar oë maak plek vir begrip. Bettie bekyk vir Mike wat langs haar staan. Dit lyk vir haar asof hy deur sy oë met iemand kommunikeer. Sy volg sy oë en sien net betyds hoe hy sy kop instemmend knik vir ‘n man wat ‘n paar treë van hulle af staan.

Toe Bettie weer kyk is Mike nêrens te sien nie. Sy soek oral na hom, maar kry hom nêrens nie. Sy hardloop na die man onder die boom om te vra wie hy is en waar Mike is. In haar haas struikel sy oor haar lang geblomde laslappieromp en terwyl sy probeer opstaan sien sy dit … die spykerwonde aan sy voete!

“Bettie, Bettie! Word wakker!”

Bettie se oë gaan stadig oop. Sy sien haar mammie langs haar bed staan. Haar liewe moeder. Op die bedkassie is ‘n skinkbord met Bettie se gunsteling sagobederfie, met nartjie en kaneel.

Trane bol oor haar wange. Met haar drome so vars in haar geheue, koester sy Agatha se deernis en Jan se tevredenheid. Tevredenheid in sy menswees en doel in die lewe. Sy beleef weer die omgee en liefde in verskeie Afrikaanse dialekte by die fees.

Begrip oor haar bestaan staan helder voor Bettie uitgespel. Sy is gemaak om onvoorwaardelike liefde te leef!

Sy sit skielik, met nuwe geesdrif en ywer, regop in haar bed.

Sy trek haar joernaal nader en begin skryf … In die voetspore van Jesus.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak