SILWER EN GOUD
Silwer en Goud
die plek waar ek en jy
ons vuurtjie brand gemaak het
‘n soutbos-skerm gebou het
silwer die sterre in die donker nag
goud in die dansende vlamme
die plek waar ek en jy
‘n holtetjie so knus
vir ons kooigoed gemaak het
silwer die Hakdoring se bloeisels
goud in die son se strale
die plek waar ek en jy
kuier om ‘n bekertjie java
askoek met wilde heuning eet
silwer glim lekkerte in jou oë
goud in die vreugde van jou lag
die plek waar ek en jy
ons vryheid op die altaar geplaas het
God Sy Gees daarin geblaas het
silwer ons spore in die maanlig
gelouter ons liefde vir mekaar
© Barbara Smit 17/04/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.