Smeking
seën my met sublieme musiek
my muse
ʼn prelude na crescendo
kantates met oorwurmrefreine afgerond
neurie-sing
skeppende solo-note gestring
begelei die alfa-rimes van my neurone
my muse
sodat stimuli vars strofes dig
in die akoestiese spelonke van my regterbrein
talm-weergalm
ʼn inspirasiepsalm
maar steeds is jou lippe blou gesnoer
jou nootbalke is leeg geoes
ek smoor in stom gebaretaal
in doodse stilte het jy my gefaal
dolorosa-bevange
koda-gesange
Etna Wepener ©️
Woordverklaring:
• Koda is die afdeling wat ‘n musiekstuk afsluit, soos die einde van ‘n liedjie.
• Dolorosa (doloroso) – ongelukkig, pateties, desperaat.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek