SPOOKASEM
jy maak jou vas
jy bind jou los
ek wys vir jou
Karoo se bos,
die lang gras van die Vrystaat
en hoe Namakwaland kan blom
ek kweek in jou ‘n afdruk van die Kaap
*
in jou elke dag se wakker wees
– selfs ook in jou slaap –
lief ek elke krul en sliert se hang,
bly verwonderd oor hoe blosend daar
oor die sagtheid van jou wang
(soms nog)
‘n gloed van onskuld en skugterheid ontvlam
hoe mooi is jy in jou jonkheid, kind
jou hare los, of opgebind
so effens wild,
soos asem – vry
*
en iewers binne my
knoop ek jou vas
bind ek jou los
aan Vrystaat gras
en suikerbos,
aan Namakwaland se lenteblom
. . . en aan ‘n afdruk van die Kaap
© Carma Shaw
25 Oktober 2016
6 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek
-

neels
wel Carma ek dink alles is klaar deur die moderator genoem
-

Amaspoke
Uitstekend!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Inkmoderator
In poësie is een van die moeilikste take om 'n sinvolle rymskema te skep sonder dat dit naar geforseerd lyk en klink. By die lees van jou gedigte ervaar ek nie daardie hinderlikheid nie. Jou besonderse versorging staan uit. Ek het die voorreg gehad om reeds 'n paar van jou verse hier op INK te lees, en dit wil blyk asof jy jou eie patroon van vers-maak ontdek het en gereiflik daaraan ontgin. Ek merk ook die gebruik van 'n asterisk in baie van jou werk. Ek glo dit moet 'n atmosfeer verandering aandui. Interessant genoeg het die ou lettersetters (veral in prosa) na die asterisk breuk verwys as 'zareba' of 'dinkus' (en ek weet nie of daar Afrikaanse ekwivalente is nie). Dit is natuurlik gebruik soos aangedui om 'n toneelverandering aan te dui. Ek vra want ek is nogal nuuskierig hoe jy die funksie in jou poësie ervaar en toepas? Hierdie vers is lieflik met pragtige woordbalans, duidelike oordrag, besonders ritmies en geslaagd. Jy bemeester die metrum ook met anodinie. Welgedaan,