Triptiek
Liefde
En nou dat ons saam,
met gevlegde hand en siel
ons wittebrood hou,
Sag kan proe en steeds
Toe-oog winkend pleit
vir die soetheid sonder kwade,
Sien my hier en ken my lyf,
want dit behoort aan jou
van toon tot kop.
Haat
En nou dat ek alleen,
met gevlekte hand en siel
moet bedelbrood kou,
Hard moet sluk en steeds
wurg-smekend bid
vir die korsies van jou genade,
Onthou my hier as een wat kniel,
maar eens bly staan het
toe jy net wou skop.
Dood
En nou dat jul saam,
met koue hand en siel
rus waar ander rou,
Koud moet slaap en steeds
sonder woord moet wag
op die oordeel van julle dade,
Verag my hier terwyl ek staan
en gryns en lag en skater
wanneer tyd vir jul ook stop.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.