
Vasdans
Vasdans
wilge jou takke om my middel
swaai my wiegend heen en weer
streel die binnekant van my seer
laat ons vasdans
mekaar se siele opbeur
neem jou blare
skerm my wanhopige skaduwee
uitgeteer en op liefde opgegee
ek soek al so lank na jou
‘n bas vol krake
om my nerfaf te skuur
van al die pyn te stroop
wat ek so moes verduur…
tyd het my kom leer
dat twee mekaar vorm
die sukkel kan deurstaan
saam geanker deur elke onaangename storm
vertroostend waai in harmonie
as herfstrane na benede val
my eens kleurvolle self
aan genade hang
die mooiste dele op ‘n hopie
val
oor bloedgrond lê en ween
weet ek die stormreën bring ook weer nuwe seën
neem my hand
trek my weereens met jou takke nader
hou my vas
dans van sonopkoms tot nuwe hoop
vou my in jou hart
waarin ek so graag wil pas
los my net daar
waar geen onrus my sal knak
in jou arms van geluk
het ek die ware sin van vreugde gevind
net soos ‘n sierlike boom oor tyd groei
getrou seisoene deur stoei
wil ek saam met jou
tot aan die einde vasdans
ook by jou staan
jou myne maak
lewe om te lewe vir ‘n tweede kans
©️Wendy Leigh
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2022 OOP projek