Die nuwe normaal (Silwer 582 woorde)
Iets wat mens nogal deesdae gereeld hoor, is: “As alles weer normaal is …” of “Noudat alles weer normaal begin raak …” of “Die nuwe normaal is …”
Nou wonder ek, wat word beskou met “normaal”? Die HAT beskryf die woord “normaal” as “Volgens die (gestelde, aanvaarde) norm; reëlmatig, gewoon, volgens die reël.)
“Normaal” is ‘n kontroversiële woord. Nie almal kyk na die lewe uit dieselfde bril nie, en nie almal handhaaf dieselfde lewenstandaarde nie. Wat vir die een aanvaarbaar is, is vir die ander onaanvaarbaar.
Elkeen van ons leef binne ons eie “normaal”. Ons stel ons eie reëls van “moets” en “moenies” op (gewoonlik oorgeërf uit familietradisies). Tog is daar entiteite wat namens die samelewing sekere besluite neem wat almal op een of ander manier raak. Wat die alledaagse, dit waaraan ons gewoond geraak het, omverwerp. Soos bv. die koms van Covid-19 en die regering se besluit om die hele land aan bande te lê.
Besluite is namens ons geneem wat veral ons beweging gestriem het en ook ons daaglikse verhoudings en sosiale gewoontes beïnvloed het. En, soos met enige besluit, was daar voordele sowel as nadele aan verbonde.
Die voordele mag dalk wees dat ons van ‘n groter stertesyfer gespaar is, maar die nadele was en is nog steeds enorm. Gewoontes, soos ons dit gedoen en geken het, het oornag totaal verander.
Die land se ekonomie is ‘n geweldige knou toegedien wat baie families finansieel geruïneer het. Besighede het ondergegaan en baie mense het hulle werk daardeur verloor. Nou hink ons land op ‘n al groter-wordende probleem van werkloosheid wat ‘n al groter kriminele weiveld skep. ‘n Afvlerk duif wat spartel om weer balans te vind.
Tog het dit mense, wat deur die jare stagneer het, wakker geskud en planne laat maak. Hul kreatiwiteit is afgestof en op die proef gestel. Geykte gewoontes is gehalt. Vele mense het nuut begin dink en wonderlike nuwe geleenthede vir hulself kon skep, en is in ‘n mate nou beter af as voorheen.
Maar die ergste nadeel is/was die emosionele skade wat gely is. Mense het vereensaam, is afgesny van geliefdes, van daaglikse kontak met medelinge wat wetend en onwetend ‘n anker in ons lewe is/was. Wat wetend of onwetend die navigator van ons daaglikse roetine gevorm het. Wat rigtingwysers op ons pad was. Skielik was ons slegs op net onsself aangewese.
Nie almal is emosioneel sterk genoeg om iets positief uit die negatief te skep nie, en ons hoor van beide kante af hoe mense gedwing is om nuut te dink en nuut te skep, maar nie almal kon dit regkry nie. Emosionele skade is aangerig wat dalk nooit werklik weer sal genees of terugkeer na hoe dit voorheen was nie.
Dat ons egter nog hier is, is bewys dat ons elkeen ‘n ingebore oorlewingsmeganisme het. Dat ons nie sommer oorgee en gaan lê om te vergaan nie. Dat ons weet waar ons hulp vandaan kom, en dat genade van Bo ons daagliks deurdra.
Nou moet ons vir onsself ‘n nuwe “normaal” skep, want sekere dinge sal nooit weer kan wees soos voorheen nie. Maar eers moet ons uitpluis wat “normaal” vir elkeen van ons beteken. As individue sal ons nooit almal in dieselfde vorm gegiet kan word nie, want my “normaal” is nie jou “normaal” nie, en wat vir jou aanvaarbaar is, is dalk nie vir my nie. Maar êrens tussenin lê “aanvaarding” wat ‘n middeweg aandui en nuwe gewoontes vorm, want waar ‘n wil is, is altyd ‘n weg.
©Driekie Grobler
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei OOP projek