Jongste aktiwiteit:

Vat my terug

Vat my terug na die tyd toe ons saam kon staan
Destyds, toe ék jou beminde was –
Indertyd, toe jy ‘n krygsmag vir my sou verslaan
Indertyd, toe net ék jou beminde was.
Sien jy, die sekelmaan gaan steeds sy gang
alomdeur die melkweg waar dit vonkeloog hang
Daar, waar dit snags oor ons eenwees gewink het
wyl ons onsself smoordronk aan passie verdrink het

Vat my terug na die tyd toe ons saam gebid het,
destyds, toe ék jou beminde was –
Indertyd, toe ek jou hart besit het
Indertyd, toe net ek jou beminde was.
Sien jy, agter die onweer lag ‘n liefdesson vir jou
deur stormblouwolke wag die sekelmaan getrou;
Daar waar dit snags oor ons naaktheid kan wink
wyl ons onsself smoordronk aan liefde verdrink

Vat my terug na die tyd, toe jy vir my berge sou versit,
Destyds, toe ék jou beminde was –
Indertyd, voor ek verlate op my knieë moes bid
Indertyd, toe net ék jou beminde was
Sien jy! Niks het vererander nie, behalwe jy
Vra jouself af; wie is dit wat ly?
Jy wat snags langs my in jou drome rinkink
of ek wat myself stormdronk aan my hartseer verdrink?

©Loretta Szikra
20190331 (Projek – Intertekstualiteit)

Neologismes:
1. Vonkeloog
2. stormblouwolke
3. stormdronk

Bronteks:

Wys my die plek – C. Louis Leipoldt

Wys my die plek waar ons saam gestaan het, 
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die silwer see
Blink in die sonskyn, soos lang verlee
Dit eenmaal geblink het, ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou as alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saam gekniel het,
eens, toe jy myne was –
Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,
Lag soos voorheen op my en op jou;
Dit skitter nog altyd ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saam geloop het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk dis dieselfde! Net jy nie. vra,
Wie van ons twee moet die meeste dra?
Jy wat vergeet het – of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed