Verlore Generasie
‘n Vergete generasie, dwaal doelloos in die nagte.
Ons doen wat ons moet om op te staan sonder steun of klagte.
Ons oorlewe tussen haat, selfsug, geldguurigheid en minagting.
Ons dra die ankers om ons nekke met geen hoop van versagting.
Geen helpende hand word uitgesteek, geen steun vir jong pilare.
So sterf ons kinders dag na dag en so verdwyn die jare.
Leë doppe struikel blind deur die lewe soos ons hulle leer.
Doen wat ek sê, nie wat ek doen, dit is jou eer.
Ons is jonk, maar ons siele oud en brand uit van vuur na as.
Waar is die dae van onskuld, van lê en wolke kyk in die gras?
Die tyd van saamstaan, opstaan en veg vir wat jy glo?
Nou staan ons net en stront opvreet, vergete die misnoeë.
Die jeug jaag drome na. Illusies gekweek deur monsters in die nag.
Jy sluk, jy snuif, jy spuit, jy trek, jy draai, jy droom, jy vlieg, jy wag…
Onseker waarvoor, maar jy staan brandwag in hoop op ‘n beter dag.
Terwyl die korrupte, bloeddorstige satans uit die skadus vir ons lag.
Ons staan op ‘n afgrond en al wat ek kan sien is die sterre wat dans.
Ek hou my asem op en gee ‘n tree van hoop. Daai tree, is ‘n kans…
Ek struikel en val in die donker gat, daar is geen hoop vir my nie.
Skreeuend stil, ek kan nie meer in hierdie waansin bly nie.
Vlugtend swiep die oomblikke ons verby terwyl ons vergeefs dit najaag.
Ons gryp na die rook, die wasem en op ons lippe hang die vraag…
Die wat kans gehad het het hul toekoms versmoor en sleep jou saam.
‘n Hele generasie deur valse geskiedenis vermorsel, nou dra ons die blaam.
Iewers in my dronk geheue onthou ek dat eens het ons mekaar gedra.
Daar was tog tye in die verlede wat ons mekaar kon verdrae.
Ons moet ons oë oopmaak, glo in “Ons vir jou” en kommunikasie.
Daar is ‘n moontlik ‘n skrille hoop vir ons vergete, verlore generasie…
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.