Verlossing
ek sou vir my ‘n wolk bid
voor die warm son
ek sou ‘n donderwolk bid
as ek dit net kon
een met volop water
in haar binnebuik
een wat mildlik reën stort
uit die oorloop
van haar boeppenskruik
ek sou vir my ‘n wind bid
wat noordwes waai
een wat nogal koud voel
een met vog belaai
ek sou ‘n woeste wind bid
en ek sou juig
as die takke van my bome
so weerloos
in sy asem buig
ek sou vir my ‘n berg bid
met ‘n sneeuwit kruin
ek sou ‘n bolandberg bid
met ‘n diep rafyn
watervalle oor die kranse
na ‘n groen vallei
rooiborsvinke tussen rietbos
wat nes bou
waar die vlaktes vlei
ek sou vir my ‘n storm bid
wat aanhou woed
tot al my leë riviere
weer voluit vloed
ek sou vir my ‘n dam bid
wat die dors verdrink
‘n duisend silwer mere
en strome
waarin water blink
ek sou vir my ‘n wolk bid
voor die hete son
ek sou ‘n donker wolk bid
as ek net maar kon
een gevul met baie water
en vol van lyf
wat wis hoe om verlossing
met druppels
oor die grond te skryf
© Carma Shaw
24 Maart 2017
3 Kommentare
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek
-
Vonnie
Baie dankie Viooltjie, ook vir jou inskrywing vir die sing-'n-trefferliedjie-los kompetisie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Amen! GvT