
vryheidswaan (SILWER)
vryheidswaan
uit donker dieptes klouter golwe hemelwaarts
as branders baljaar in kobalt en koringblomblou
sal seesand skuimend skuur aan brandersoom
wyl die seegolwe meen hulle is vry om te vloei
eb en vloed word inkorporeer deur wenteling
van planete en sterre in hul vlietend vlug
die ruimtes in verskietend soos ʼn komeet
skuim blanjebranders beurbruisend na bo
die seesand word verfris in soel seesproei
wyl die seegolwe meen hulle is vry om te vloei
as hul met maanhaarkruin kreunend dein
hul vlietende vlug wat wegkwyn in die sand
stilgeskok besef elke golf wat dink hul is vry
dat swaartekrag wel hulle lot hier bly bestem
©Marlene Erasmus
22/02/2023
Neologismes:
blanjebranders: spierwit branders
beurbruisend: beurend met bruising na bo beweeg
maanhaarkruin: kruin van branders soos maanhaar
stilgeskok: geskok tot stilte
3 Kommentare
-
Tearlach
Dit is nou goed gedoen
-
Tearlach
Ek waardeer jou woorde dankie
-
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2023 BLOU projek