Sneeuverslag (Julie 2016)
Nog ‘n vlokkie val op Erfdeel*
bo die Hexriviervallei.
Oor Matroosberg daal ‘n stille vrede neer.
En kranse lê in wit gewaad
– bo De Doorns –
langs vaalbruin wingerde verby.
Witsieshoek se liggies glim
in ‘n Vrystaatnag vol skemer.
By Clarens beeld ‘n doringboom in ys.
En Ficksburg hou sy asem op . . .
in voorspel tot die blomseisoen.
Kom lente,
sal kersiebloeisels pienk en paradys.
Op die hoogland van Lesotho
staan ‘n kar met sneeu bedek.
By Elliot in die Oos-Kaap bid ‘n boer –
dat die uur tog net veby sal gaan,
daar geen dier
in hierdie duisternis sal vrek.
En veertig wagters vasgevang
(hoe koud is dan die hel)
daar êrens waar die velde wit
tussen vries . . . en Tiffendell.
*Erfdeel – plaasnaam
© C. Shaw
30 Julie 2016
5 Kommentare
-
Ronel Janse van Vuuren
En nou kry ek sommer koud... Goed gepen :-)
-
Janetta-Helena Boonzaaier
Dit tref my met die weerlees weer die fyn lees van die sneeuberigte en die digterlike weergawe daarvan, ek het dit geniet, uitstekend!
-
neels
Sjioe Carma ek sit sommer en koud kry so realisties stel jy dit
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Staande applous!!! Dis briljant!