Xenophobia
In ons straat en om die skool
het bloekoms hemelwaarts gereik,
soos vorste oor als getroon,
majestieus en lowerryk,
vasale gepantser teen die son.
Hul takke het ‘n koninkryk
bevat van ekologiese sisteme,
subkulture wat wemel, verryk
en alles sommer net laat sing
en soos skilderye laat lyk.
Hier het uilhuisies rondgeswaai
en byeboerkorwe vol gepryk.
Die ondergrondse skinderbek, Uil,
wat na almal se kapperjolle kyk
en in die skoolkoerant uitsaai,
het gewonder in watter wyk
hy nou in die dag sou skuil.
Nou’s daar net stompies wat aardig lyk
met knoetsies wat oral uitspruit.
Ander se tyd het totaal verstryk –
uitgehaal, vergiftig, ontbas, vermoor,
want hulle dring in, het dit geblyk,
vat ons water en wat ook nog –
gee boggerol terug wat ons verryk!
©Charleine Collins 23 Januarie 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.